Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Seesig-moord: Moordenaar het dalk Bybel gebruik om in te kom

Waarskuwing: Die inhoud van hierdie berig is grafies en kan sommige lesers ontstel.

Lynette Volschenk
Lynette Volschenk Foto: Facebook

Lynette Volschenk (32) se moordenaar het vermoedelik ’n Bybel toegedraai en gemaak asof hy dit kom aflewer om sodoende toegang tot haar woonstel te kry.

Dié Bybel is die dag waarop haar lyk ontdek is in haar Seesig-woonstel in Loevenstein, Bellville, gekry. Ingeligte bronne het Woensdag gesê die polisie het op Donderdag 22 Augustus, die dag waarop haar lyk ontdek is, reeds op die Bybel beslag gelê.

Dit blyk dat Volschenk vermoedelik reeds die vorige dag omstreeks 17:00 vermoor is.

Kyle Ruiters (21) is intussen in hegtenis geneem en het reeds op aanklag van moord in die hof verskyn.

Netwerk24 kan nou onthul dat Volschenk met ’n mes doodgesteek is. Sy is glo in haar linkeroog deur haar slaap gesteek en is vermoedelik onmiddellik dood.

Dieselfde bronne sê die polisie ondersoek nou ook die moontlikheid dat die beskuldigde Volschenk langer as twee weke voor die moord dopgehou het. Volgens inligting is hy in die weke voor die moord glo gereeld op die 12de verdieping van die woonstelgebou gesien, waar hy die voordeur van haar woonstel kon dophou.

Na verneem word, is haar lyk met ’n ystersaag en mes in stukke gesny op die dag van die moord. Bronne sê benewens haar kop wat afgesny is, is albei haar bene en haar arms van haar torso afgesny. Haar maag is glo ook in stukke opgesny.

Haar liggaamsdele is toe na bewering in ’n blou koelhouer met ’n wit plastiekdeksel van haar hoekwoonstel op die tiende verdieping geneem na die woonstel wat Ruiters met sy tannie, adv. Theresa Ruiters, op die negende verdieping gedeel het. Adv. Ruiters het hom as kind aangeneem.

Kyle Ruiters
Kyle Ruiters Maandag tydens sy eerste verskyning in die landdroshof in Bellville. Foto: Jaco Marais

In dié woonstel is Volschenk se liggaamsdele vermoedelik in vullissakke gesit.

Toe die polisie Ruiters in hegtenis geneem het, is vyf sulke sakke, vermoedelik met haar liggaamsdele in, glo uit sy woonstel en uit Volschenk se woonstel verwyder. Die polisie het glo ook in die rommelkamer op die grondverdieping op bebloede handdoeke beslag gelê wat vermoedelik gebruik is om haar bloed mee op te vee.

Die oggend ná die moord het die beskuldigde glo die vrou se kop in ’n plastieksak uitgedra, het geblyk uit kringtelevisiebeelde wat Netwerk24 se bron gesien het.

Netwerk24 het vroeër berig dat Volschenk se kop, toegedraai in ’n inkopiesak, in ’n beboste gebied in Batesrylaan, skaars 400 m van die Seesig-woonstelgebou, gevind is.

Toe Volschenk die Donderdagoggend nie by die ingenieursfirma, waar sy as tekenaar gewerk het, opdaag nie,  het haar kollegas na haar gaan soek in haar woonstel.  Daar het hulle afgekom op Ruiters, wat glo besig was om die bebloede woonstel te probeer skoonmaak.

Volgens die bronne het Ruiters rubberhandskoene aangehad en vir hulle gesê Volschenk het hom gehuur het om haar woonstel skoon te maak.

Ruiters is Donderdag in hegtenis geneem en het Maandag in die landdroshof in Bellville op aanklag van moord verskyn. Die saak teen hom is tot volgende Maandag vir verdere ondersoek uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.