’n Man met ’n gesofistikeerde elektroniese toestel waarmee onder meer selfoonseine geblokkeer word, is in die Boschkop-gebied, oos van Pretoria, in hegtenis geneem.
Sers. Yeroboam Mbatsana, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie het Vrydag as deel van sy optrede vir ’n veilige feestyd patrollies by winkelsentrums in die ooste van Pretoria gedoen.
Mbatsana sê polisielede het by een van die winkelsentrums, naby die Boschkop-kleinhoewes, ’n verdagte man gesien wat tussen die voertuie ronddrentel en iets in ’n papiersak dra.
Die polisielede het die man genader en ’n gesofistikeerde toestel, wat selfoonseine blokkeer, asook ’n paar handskoene, in die sak gekry.
Volgens ooggetuies het iemand in ’n motor weggejaag toe die polisie die verdagte deursoek het.

Die gesofistikeerde toestel wat onder meer selfoonseine blokkeer wat polisielede van Boschkop by ’n man met ’n misdaadgeskiedenis gekry het.
Mbatsana sê die man is in hegtenis geneem en by die Boschkop-polisiekantoor aangehou.
Die polisie het vasgestel die man het ’n misdaadgeskiedenis.
Ross Welsh, voorsitter van die Boschkop-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê die blokkeerder word onder meer gebruik om duurder motors se afstandbeheersein te blokkeer.
Dit kan ook selfone en satellietopsporingstoestelle se seine blokkeer.
Welsh sê sindikate gebruik meer gesofistikeerde toestelle.
“Die toestel kan verskillende seine, wat satellietseine, selfoonseine en afstandbeheertoestelle se seine insluit, blokkeer,” sê hy.
Welsh sê mense moenie enige artikels in voertuie los nie en seker maak voertuie is wel gesluit wanneer hulle iewers parkeer.
Daar was binne ’n week twee plaasaanvalle in die gebied. In die een aanval is ’n aanvaller deur ’n boer doodgeskiet en in die ander aanval is Anton Kleyn (61) in sy huis op ’n hoewe doodgeskiet.