SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
Seksklagte: Oudonnie verdwyn

’n Oudonderwyser wat die onderwerp is van ’n reeks potsendings deur die man wat hy glo 22 jaar gelede verkrag het, het oornag sy onderneming se deure gesluit.

Deon Wiggett, ’n kopieskrywer van Johannesburg, verlang geregtigheid 22 jaar nadat hy glo as 17-jarige verkrag is. Foto: Facebook

Deon Wiggett, ’n kopieskrywer van Johannesburg, doen in die potsendings ’n “regstreekse ondersoek” na die lewe van die man wat hy “Jimmy” noem, die oudonderwyser wat ’n grootkop in korporatiewe kringe geword het. Jimmy se regte naam is aan Rapport bekend en word op regsadvies weerhou.

In die potsendings getiteld My Only Story sê Wiggett (39) hy is op 17-jarige ouderdom deur Jimmy “in die mond verkrag”. Wiggett was in daardie stadium ’n leerling aan die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. Jimmy was nie meer ’n onderwyser nie maar sy paaie het met Wiggett s’n gekruis.

In die eerste poduitsending op Donderdag 7 November het Wiggett gesê hy hoop om genoeg getuienis in te samel sodat Jimmy vasgetrek kan word “voor Desember”. Sedertdien het vyf mans na vore gekom met verhale soortgelyk aan Wiggett s’n, sê Jenny Griesel, Wiggett se woordvoerder.

5 mans het soortgelyke verhale vertel.

Sy sê hulle werk saam met die polisie.

In die potsendings beskryf Wiggett vir Jimmy as ’n vet, grillerige brulpadda. Hy vertel hoe hy buite Jimmy se huis in Kaapstad gaan sit het om hom dop te hou. Dit het hom behaag dat Jimmy vir ’n slag die een was wat gejag word.

Jimmy het direk nadat die eerste potsendings verlede week uitgesaai is, al sy sosialemediarekeninge gesluit en sy foon is af. Rapport verneem hy bly tydelik by sy ma in ’n gewilde kusdorp.

Die sakeman het ’n paar jaar gelede sy eie onderneming begin. Een van sy werknemers het Vrydag aan Rapport gesê hul lewe is ook omgedolwe toe Jimmy Maandag by die werk opgedaag het om almal te ontslaan.

“Hy het vir ons gesê hy is vreeslik jammer, maar weens omstandighede en finansiële redes moet hy die besigheid toemaak. Dit was Woensdag ons almal se laaste dag. Amper 30 mense sit nou sonder werk,” sê die vrou. Sy het Wiggett deur sy webblad gekontak en hom gevra of dit regtig nodig was om op dié manier haar werkgewer te teiken, al skryf sy sy het simpatie met Wiggett.

In e-poskorrespondensie wat Rapport gesien het, antwoord Wiggett dit was nooit sy bedoeling dat onskuldige mense hul werk verloor nie.

“Maar die enigste persoon om te blameer is die aggressor self. Dit is die gevolge van sy sistematiese dade – sy noukeurige, dekadelange verwoesting van seuns. Ek sit op die oomblik in ’n WhatsApp-gesprek met ’n 45-jarige man wat aan die huil is oor wat met hom gebeur het in 1991.”

Wiggett skryf hy is “verbaas” dat iemand hom wil kritiseer vir die manier waarop hy te werk gaan om Jimmy vas te trek en geregtigheid te kry. “Jy moet jou CV uitstuur; ek probeer al 22 jaar die smaak van sy v**l uit my mond kry. Wie dink jy het rede tot bitterheid?”

Wiggett sê daar is ’n aaklige anomalie: Die samelewing sê dat slagoffers beskerm moet word, en tog kan Wiggett in die moeilikheid beland as hy vir Jimmy konfronteer of identifiseer voordat hy ’n onomstootlike saak gebou het.

Wiggett het onder meer sy werk bedank om voltyds aan die ondersoek te werk. Sover het Wiggett bevind dat Jimmy sewe jaar van sy loopbaan op sy CV verswyg het toe hy ’n onderwyser was.

Wiggett het egter onthou dat Jimmy hom destyds vertel het dat hy skoolgegee het by Grey Kollege in Bloemfontein, en toe Bloemfontein toe gery om bewyse hiervoor te kry. Rapport het op Jimmy afgekom in Grey Kollege se 1989-jaarboek. News24 het berig hy was ook die volgende jaar ’n onderwyser daar. Toe is hy volgens Wiggett vort na ’n “obskure” dorp waar hy vyf jaar skoolgehou het. Rapport verstaan dit is in die Wes-Kaap.

Deon Scheepers, Grey Kollege se hoof, het gister gesê: “Die Grey Kollege-gemeenskap is geskok oor die beweringe. Ons hoop dat die saak behoorlik deur die wetstoepassers ondersoek sal word en dat, indien daar meriete in hierdie beweringe is, die skuldige aan die pen sal ry. Die skool sal sy volle samewerking gee. Hierdie beweringe is ook aan die departement van onderwys gerapporteer.”suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Deon Wiggett  |  Grey Kollege  |  Podsending  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.