Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sekspes teister vroue met video-oproepe

Vroue wie se selfoonnommers om sakeredes aanlyn beskikbaar is, word maande al deur ’n man geteister met video-oproepe waarin hy masturbeer.

Eiendomsagente en werknemers van motorhandelaars in verskeie provinsies is onder die slagoffers. Ander vroue weet glad nie waar hy aan hul selfoonnommers kom nie.

Johan Botes, ’n private speurder van Potchefstroom, sê die man gebruik SIM-kaarte wat nie kragtens die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie (Rica) geregistreer is nie.

’n Skermgreep van een van die oproepe.

Sodra die vroue die oproep beantwoord, beweeg hy sy selfoon van sy gesig na sy penis. “Hierdie ou saai paniek onder vroue.”

Een van die slagoffers, Nicole Mulder (28), sê sy en haar ma wat in Goodwood in Kaapstad bly, is toevallig in Februarie op dieselfde dag deur die man gebel.

Mulder het nie die oproep van die vreemde nommer beantwoord nie. Toe haar ma bel om van die voorval te vertel, het Mulder onthou van die oproep na haar foon en besef die oproepe het van dieselfde nommer gekom.

Mulder het as administratiewe beampte by ’n motorhandelaar gewerk en haar ma verkoop motors.

“Toe ek besef dis dieselfde mens, was ek geskok en bang. Ek het my dit baie persoonlik aangetrek, maar toe ek later hoor daar was nog voorvalle was ek dankbaar dat dit nie iemand is wat my en my ma geteiken het nie.”

Mulder was wel bekommerd oor waar die man aan haar nommer gekom het omdat dit nie vrylik beskikbaar is nie.

“ ’n Mens weet nie of dit iemand is wat aandag soek en of hy gevaarlik kan wees nie.”

’n Eiendomsagent van die Wes-Rand, wat gevra het dat Rapport haar naam om professionele redes weerhou, sê sy het op ’n Sondagoggend in Oktober ’n oproep van die man ontvang.

“Ek het eers die foon teen my oor gedruk voordat ek besef het dis ’n video-oproep. Toe ek na die skerm kyk, sien ek net die penis in sy hand.”

Nadat sy die oproep beëindig het, het hy haar nog twee keer gekontak. Sy het dié video-oproepe opgeneem.

Peta-Lee Smith (57), ’n eiendomsagent van Alberton, sê die man het haar meedoënloos gebel.

“Tydens die eerste oproep het ek hom net skrams gesien. Ek het dadelik die foon weggedraai. Toe sê hy: ‘Kom nou, ek wil jou gesig sien.’ ”

Smith het vir hom gesê hy is “absoluut siek,” voordat sy sy nommer geblokkeer het. “Ek het die idee gekry hy het ’n gesin omdat hy altyd soggens gebel het,” sê sy.

Smith sê sowat vier jaar gelede het sy ook oproepe van ’n vreemdeling ontvang wat gedreig het dat hy haar, haar man en haar volwasse dogter gaan vermoor. Sy weet nie of dit dieselfde man was nie.

“Ons lewe in ’n siek samelewing.”

Botes, wat die saak gratis ondersoek, weet van nagenoeg 30 slagoffers.

Pixie Pink, ’n aktivis teen misdrywe teen vroue en kinders, sê die man bel gewoonlik op Vrydae tussen 09:00 en 11:00. “Hy moet gestop word.” Sy raai eiendomsagente aan om nie alleen na eiendomme te gaan kyk nie. “Ons weet nie hoe ver die siek man sal gaan nie.”

Anna Collard, besturende direkteur van KnowBe4 Africa, het aan Liesl Peyper gesê in praktyk is dit moeilik om so ’n misdryf aan te meld. As die slagoffer dit byvoorbeeld by die kuber-spilpunt (cyber hub) aanmeld, kan dit maande duur voordat die saak aandag kry.

Prof. Bruce Watson, hoof van inligtingswetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê selfs al word dit aangemeld en ’n saaknommer word uitgereik, het die polisie nie die hulpbronne om elke onwelvoeglikheid te ondersoek nie. As die oortreder nie sy SIM-kaart “ge-Rica” het nie en die netwerkverkeer kan nie nagespeur word nie, sal vervolging baie moeilik wees.

Meer oor:  Seksuele Teistering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.