Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Seksuele geweld vier hoogty in Gauteng

Terwyl die polisie se nuutste moordsyfer skokgolwe deur die land stuur, steier Gauteng onder die wete dat seksuele misdade in dié provinsie op 10 116 bykans ’n vyfde van die land se 50 108 aangemelde seksuele oortredings behels.

Die polisie het Dinsdag in Kaapstad sy jongste misdaadstatistieke bekend gemaak.

In die 2017-’18-boekjaar is daar 8 062 verkragtings aangemeld. Dit is 362 meer as in die vorige boekjaar.

Seksuele aanranding het met 18,3% toegeneem.

Sowat 5 400 ontvoerings is landwyd aangemeld, waarvan die meeste in Gauteng was.

Wat gesinsgeweld betref, is Gauteng tweede in die land met 17 394 gevalle. Die Wes-Kaap lei met 25 796 gevalle.

Van die 3 915 moorde op vroue en kinders is 657 in Gauteng gepleeg. 108 hiervan was kinders, waarvan 31 meisies en 77 seuns was.

Miranda Friedman van Women and Men Against Child Abuse sê dié organisasie is ontevrede dat daar nie fyner statistieke soos die geslag en ouderdom van slagoffers van seksuele misdaad bekend gemaak word nie. “Organisasies soos ons en die publiek maak staat op hierdie statistieke om proaktief op te tree en te weet watter geriewe in watter gebiede nodig is om seksuele misdaad teen kinders te bekamp.”

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die kollig laat val op polisielede se optrede teenoor vroue.

“Ek het enige swak optrede van polisielede teenoor vroue wat misdade wil aanmeld, tot ’n ernstige oortreding verklaar. Ons versoek die publiek om klagtes daaroor aan te meld,” het Sitole op die nasionale perskonferensie gesê.

Gauteng is steeds die land se voorloper in kontak- en ernstige misdade, ten spyte van ’n klein afname sedert die vorige boekjaar. Kontakmisdaad sluit in moord, verkragting, poging tot moord, aanranding, rooftogte en seksuele aanranding. Sowat 170 640 sulke voorvalle is aangemeld. Die Wes-Kaap volg met 112 996 kontakmisdade.

Gauteng, met sy moordsyfer van 4 233, volg kort op die hakke van KwaZulu-Natal, wat die hoogste provinsiale moordsyfer (4 382) het. Gauteng se moordsyfer maak byna ’n vyfde van die land se totale moordsyfer van 20 336 uit en kom neer op ’n gemiddeld sowat 11 moorde per dag in die provinsie.

Vuurwapens is die algemeenste moordwapen, gevolg deur messe en dan enige ander skerp voorwerp wat die moordenaar in die hande kon kry.

Die grootste persentasie van Gautengse moorde het in Johannesburg se middestad en die woonbuurte Jeppe, Ivory Park, Kagiso, Hillbrow, Moroka, Tembisa, Orange Farm en Alexandra plaasgevind.

Gauteng loop voor in moorde wat met vigilante-voorvalle, taxi’s en onwettige mynbedrywighede verbind word. Die meeste polisielede is hier vermoor.

Van die 62 plaasmoorde landwyd is daar 12 moorde by 11 voorvalle in Gauteng aangemeld.

Henry Geldenhuys van TLU SA, wat ook statistiek oor plaasmoorde byhou, reken die getal in Gauteng is so hoog omdat daar so ’n hoër konsentrasie inwoners is. “Daar is ook baie meer kleinhoewe-aanvalle aan die Rand, terwyl daar meer plaasaanvalle op die platteland is,” sê Geldenhuys.

Mpumalanga

  • Tweede laagste voorvalle van kontakmisdaad in die land (32 646);
  • Agt plaasmoorde uit 62 wat landwyd aangemeld is;
  • 217 vermoorde vroue en kinders uit ’n totaal van 3 915 landwyd;
  • Derde laagste moordsyfer in die land (922) en een van die enigste twee provinsies wat ’n afname in moorde getoon het. Die ander provinsie is die Noord-Kaap (340);
  • Derde laagste voorkoms van gewone aanranding onder al die provinsies (7 641); en
  • Tweede laagste syfer vir gesinsgeweld (2 798).

Die meeste transitorooftogte vind in Gauteng plaas (80), gevolg deur KwaZulu-Natal (30). Die twee provinsies saam is vir byna die helfte van die land se algehele syfer (238) verantwoordelik.

Die meeste transitorooftogte vind op die pad en in sakegebiede en winkelsentrums plaas.

Gauteng het steeds verreweg die hoogste voorkoms van motorkapings (8 269 voorvalle), hoewel daar ’n afname van 4% sedert die vorige boekjaar was. Vragmotorkapings het egter met 6% toegeneem en staan nou op 708 voorvalle.

Die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie het in Gauteng met 9,2% toegeneem en 4 505 sake is in die provinsie aangemeld.

Gauteng toon ’n afname in die statistieke vir poging tot moord, motordiefstal, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisbrake, roof en roof met verswarende omstandighede.

Inwoners moet egter nie te opgewonde raak nie, want die syfer vir aanranding met die doel om ernstig te beseer is steeds verreweg die hoogste van al die provinsies (39 552).

Gauteng is ook steeds die voorloper onder huisbrake met 8 333 sake. KwaZulu-Natal is tweede met 4 174 voorvalle. Motordiefstal het met 7,1% afgeneem tot 25 705 voorvalle, met KwaZulu-Natal in die tweede plek op 8 240 voorvalle.

Hoewel die land ’n nasionale afname toon in gewone aanranding, is daar ’n toename in Gauteng.

  • Kyk hier na die SAPD se voorlegging.
Meer oor:  Gauteng  |  Misdaadstatistieke  |  Seksuele Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.