Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Seksvideo’ van baas verlam NVG

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) word verlam deur ’n beweerde seksvideo-skandaal waarby die waarnemende hoof, adv. Silas Ramaite, en ’n veiligheidswag betrek word.

Dr. Silas Ramaite

Daar is boonop vrese in die diep verdeelde organisasie dat dié video gebruik kan word om Ramaite af te pers. Die video is glo kringtelevisie-beeldmateriaal wat wys hoe Ramaite en ’n vroulike veiligheidswag in ’n onbenydenswaardige posisie in sy kantoor verkeer.

Vier senior amptenare in die regering se veiligheidsgroepering het die bestaan van ’n video aan City Press, susterskoerant van Rapport, bevestig. City Press het egter nie die video self gesien nie. Luvuyo Mfaku, ’n woordvoerder van die NVG, wou nie die bestaan van so ’n video bevestig of ontken nie.

Dié beroering in die NVG is op die vooraand van die kortlys- en onderhoude-proses om ’n permanente vervolgingshoof aan te stel. Dit begin môre.

Dit is ook die tweede seksvideo-sage wat Suid-Afrika in een week tref nadat ’n video van Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, uitgelek het.

‘Hoe is kameras geïnstalleer in NVG-hoof se kantoor?’

Drie senior aanklaers het aan City Press gesê die NVG-video word gebruik deur ’n ander senior persoon in die organisasie om Ramaite onder druk te plaas om sekere veranderinge aan die NVG se leierstruktuur aan te bring. Die senior persoon het glo aan Ramaite gesê hy is in besit van die video.

“Ramaite was paniekerig en het amper toegegee aan die eis,” sê een van die aanklaers. “Ons het hom geadviseer dat hy nie moet ingee nie omdat ons gedink het dis belaglik dat iemand beheer oor die organisasie wil uitoefen deur afpersing.” Nog ’n aanklaer beweer die afpersing het te make met die opvolgstryd om nasionale vervolgingshoof te word.

’n Bondgenoot van Ramaite in die NVG het gesê: “Hoewel ons nie seks in die kantoor goedkeur nie . . . is daar ook ernstige vrae oor hoe kameras geïnstalleer is in die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging.”

City Press verneem die video het verdere verdeeldheid in die NVG veroorsaak. Ramaite staan glo onafhanklik van die twee faksies wat vir en teen oudpres. Jacob Zuma is.

Mfaku sê die bewerings dat ’n seksvideo bestaan “is blote bewerings deur naamlose bronne wat (Ramaite se) privaatheid en waardigheid skend en moontlik lasterlik is”.

Ramaite kan nie kommentaar lewer totdat hy die beweerde video gesien het en weet wie die bron is nie, sê Mfaku.

“In dié stadium kan ons net aanneem dat dit die werk is van desperate senior leiers in die organisasie wat die waarnemende nasionale direkteur wil afpers om sekere besluite in hul guns te neem. Suggesties dat hy dalk dopgehou is, is kommerwekkend en kan verdere ondersoek verg, wat kan lei tot strafregtelike en siviele regstappe.”

City Press verneem daar is nou al minstens vyf sake waar aanklaers hul kollegas in ander faksies ondersoek. Dié drama in die NVG speel af terwyl verskeie hoëprofielsake vasval.

Luidens ’n vorderingsverslag gedateer 30 Mei wat opgestel is deur die hoof van die handelsmisdaadeenheid, adv. Malini Govender, vorder die staatskapingsake byna glad nie:

  • Die klagte wat Themba Ma­seko, voormalige regeringswoordvoerder, ingedien het oor die Guptas en Duduzane Zuma se beweerde inmenging sal op die heel vroegste teen Oktober volgende jaar gereed wees.
  • Die saak oor Eskom se betaling van R659 miljoen aan Tegeta sal ook eers teen 31 Oktober 2019 gereed wees. Die geïdentifiseerde verdagtes is Tegeta, verskeie maatskappye, voormalige Eskom-direksielede en werknemers.
  • Die tesourie en twee regsfirmas het al ondersoekverslae geskryf oor Transnet se aankope van 1 064 lokomotiewe teen astronomiese koste, maar die NVG mik steeds daarna om eers oor ’n jaar ’n moontlike klagstaat gereed te hê.

Die NVG het nóg ’n terugslag beleef toe hul versoek om regshulp aan die Verenigde Arabiese Emirate, waar die Gupta-familie nou waarskynlik bly, teruggestuur is.

Die Suid-Afrikaanse owerhede het gevra vir bankstate van die Guptas en hul maatskappye, maar dit was na wat verneem word nie behoorlik opgestel volgens die regte protokol nie.

Mfaku wou nie kommentaar lewer oor die staatskapingsake nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.