Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Selfs hospitale gebruik gesteelde vleis’ – Cele

Veediefstal neem toe – só erg dat sommige shisanyamas (braairestaurante in townships) en selfs hospitale gesteelde vleis gebruik.

So het Bheki Cele, minister van polisie, Donderdag in die parlement gesê met die bekendstelling van die amptelike misdaadstatistieke vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar.

Veediefstal het met 2,9% gestyg van 28 849 voorvalle in die 2017-’18-boekjaar tot 29 672 voorvalle in die 2018-’19-boekjaar.

Bheki Cele, minister van polisie. Foto: JACO MARAIS

Genl.maj. Norman Sekhukhune, die polisiediens se hoof van misdaadnavorsing en statistieke, sê 9 273 van die voorvalle het in landelike gebiede, 7 865 in bewoonde gebiede en 1 652 in informele gebiede plaasgevind.

Cele sê die polisie neem veediefstal baie ernstig op omdat dit ’n baie groot negatiewe ekonomiese impak het.

“Dit kom oral voor en lei tot die verlies van inkomste. Vir iemand wat 20 stuks vee het en alles word gevat – vir hom of daardie huishouding is dit die ergste bankroof.

“Ons stuur nie helikopters nie omdat dit nie ’n transitorooftog is nie, maar die impak kan selfs erger wees vir daardie huishouding wat nie verseker is nie en wat al hul pensioen(geld) in daardie vee belê het.”

Cele sê veediefstal is ’n “hoogs georganiseerde misdaad”.

“Dit kom nie lukraak voor nie. Ons weet dat baie shisanyamas gesteelde vleis gebruik. Selfs amptelike instellings – ons vind sommige hospitale word soms voorsien van gesteelde vleis.”

Hy sê dit is dikwels ’n oorgrensmisdaad wat veral in landelike gebiede naby die landsgrens voorkom. Hulpbronne word beskikbaar gestel om veediefstal te beveg.

Dié kwessie is op die agenda op vergaderings met buurlande. “Ons praat met die Mosambiekse minister van polisie. Vergaderings het verlede week plaasgevind tussen ’n LUR van die Vrystaat en amptenare van Lesotho oor dié kwessie,” sê Cele.

“Mense gaan stil-stil dood omdat die welvaart wat hulle hul lewe lank opbou, in een aand gevat word.”

Boonop het die misdaad gewelddadig geword. “Hulle klop aan jou deur en waarsku jou om nie uit te kom nie. Hulle vuur een of twee skote af as waarskuwing en vat die hele kraal en hulle gaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.