Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Senior amptenaar vir beweerde bedrog met grond aangekeer

Die Valke in Mpumalanga het Dinsdag toegeslaan op ’n senior regeringsamptenaar in die provinsie wat glo by bedrog betrokke is.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die amptenaar is een van 11 mense wat by beweerde verdagte grondtransaksies van sowat R124 miljoen betrek word.

Volgens Nkwalase is daar in Februarie 2012 ’n klag by die polisie ingedien oor die Msukaligwa-munisipaliteit wat in 2011 glo ’n plaas in die Rietspruit-distrik buite Ermelo vir R11 miljoen gekoop en dit toe vir R36,4 miljoen aan ’n ontwikkelaar verkoop het.

Die munisipaliteit het die grond verkoop sodat ’n informele nedersetting daarop ontwikkel kon word.

Nkwalase sê die beweerde transaksie het plaasgevind terwyl die Msukaligwa-munisipaliteit reeds beskikbare grond gehad het wat ontwikkel kon word.

’n Ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid en die nasionale vervolgingsgesag is gedoen.

’n Fluitjieblaser het onlangs inligting aan die ondersoekspan gegee en beweer nog twee verdagte grondtransaksies het plaasgevind.

Dit sluit ’n plaas van 70 ha in Malelane in wat in 2011 vir R50 miljoen aan die plaaslike munisipaliteit verkoop is waarvan die waarde, volgens die fluitjieblaser, glo R44 miljoen was.

Nog ’n stuk grond van 74,2 ha in die Naauwpoort-gebied buite eMalahleni, wat R16 miljoen werd was, is glo vir R37,5 miljoen deur die plaaslike munisipaliteit verkoop.

Volgens Nkwalase was die drie betrokke plase se gekombineerde waarde sowat R70 miljoen.

Dit is weens beweerde samesweerdery dat die departement van menslike nedersettings in Mpumalanga ’n verlies van sowat R124 miljoen gely het.

Dié geld is glo deur vyf maatskappye geswendel.

Die Valke het glo bewyse, wat aansoekvorms vir die koop van grond deur die munisipaliteite, waardasieverslae en interne kommunikasie insluit.

Die 11 mense sal Woensdag in die landdroshof in Mbombela verskyn.

Meer oor:  Valke  |  Lt.Kol. Philani Nkwalase  |  Mpumalanga  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.