Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
6 kom hul moses teë toe hul kerkkantoor wou beroof
Vier van die ses verdagtes lê langs die pad nadat die polisie hulle gevang het. Foto: Verskaf

Ses gewapende mans wat Dinsdagoggend probeer het om die NG kerk in Jacobsdal in die Vrystaat te beroof, het hulle lelik met die Noord-Kaapse blitspatrollie misreken.

Die mans, wat gevlug het nadat hulle die kerkkantoor wou beroof, is ná ’n jaagtog op die N12 net buite Kimberley aangekeer.

Jacobsdal is sowat 60 km suid van Kimberley net anderkant die grens tussen die provinsies.

Sonja van Niekerk, die skriba van die kerk, sê twee van die ses mans het haar Dinsdagoggend vir ’n afspraak by die kerkkantoor ontmoet.

“Hulle wou die kerksaal vir ’n partytjie huur wat op 16 Desember sou plaasvind. Ek het die prosedures aan hulle verduidelik en toe ek die dokument wat hulle moes invul uit die laai wou haal, het een van die mans ’n wapen uitgehaal en geld geëis.”

Van Niekerk sê sy het gegil toe sy die wapen sien, maar kon nie die paniekknoppie gedruk kry nie. 

Die tuinier, Gert Louw, het Van Niekerk se gille gehoor en na die kantoor gehardloop.

Een van die twee mans het opgespring en na Louw gehardloop, hom gegryp en probeer om hom na die kantoor te dwing.

Van Niekerk sê toe die ander man omkyk om te sien wat gebeur, het sy haar kans waargeneem en die paniekknoppie gedruk.

“Toe die alarm afgaan, kon Gert homself losruk en die mans het gevlug.”

Die polisie het op hierdie vuurwapen beslag gelê nadat hulle ses mans aangekeer het wat die NG kerk op Jacobsdal wou beroof.Foto: Verskaf

Quinton Gouws, van Jacobsdal Security Solutions, het dadelik op die noodsein reageer en vir Lourens van Wyk en Francois Smit, sektorleiers van die Jacobsdal-buurtwag, ontbied.

Van Wyk sê die Mercedes-Benz waarin die mans gevlug het, het teen ’n hoë spoed by hom verbygejaag.

“Dit was vreesaanjaend om te sien hoe die motor deur die informele woonbuurt jaag, maar ons het agter hom aan gejaag.”

Van Wyk en Smit was tydens die jaagtog die heeltyd met die polisie se blitspatrollie in verbinding totdat die polisie twee motors tot stilstand gedwing het.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê Kimberley se blitspatrollie, die Noord-Kaapse triomisdaad-taakspan, die Modderrivier-polisie en Kimberley se soek-en-reddingspan het die polisie op Jacobsdal gehelp om die mans vas te trek.

“Twee motors, ’n silwer Mercedes en ’n silwer Polo Vivo, is op die N12 suid van Kimberley tot stilstand gedwing. Die polisie het op ’n vuurwapen en ander gereedskap wat in gewapende rooftogte gebruik word, beslag gelê,” sê Ramatseba.

Van Niekerk het Dinsdagmiddag gesê sy weet nie wat die rowers gedink het hulle sou by die kerk kon buit nie. “Weens die Covid-19-pandemie het ons nie eens Sondag ’n erediens gehou nie.”

Sy sê ná ’n paar koppies sterk koffie met baie suiker in het sy darem van die skok herstel.

“Ek is net baie bly en dankbaar niemand het seergekry nie.”

Meer oor:  Rowers  |  Jacobsdal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.