’n Besluit van die polisie om Saterdag om 04:10 ’n verdagte Mazda Drifter-dubbelkajuitbakkie op die R60 by Worcester te deursoek, het tot die inhegtenisneming van ses vermeende huisrowers gelei.

Die items wat die polisie in die mans se besit gevind het.Foto: Verskaf

Die Mazda Drifter-dubbelkajuitbakkie waarmee die verdagtes gery het. Foto: Verskaf
Luidens ’n verklaring van kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, wissel hul ouderdomme tussen 20 en 58 jaar.
Die groep word verbind aan ’n saak van huisroof wat vroeër vanjaar in Stellenbosch aangemeld is en is vermoedelik ook betrokke by talle ander huisbrake wat oor die afgelope paar maande in die Wynland-distrik plaasgevind het.
Die polisie het toerusting in die mans se besit gevind wat gebruik word om by huise in te breek, onder meer ’n groot knyptang, handskoene en ’n balaklawa. Die polisie het ook op hul voertuig beslag gelê.
Die ses mans verskyn Maandag in die landdroshof op Worcester op aanklagte van huisroof.