Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Seun (12) se lyk op stortingsterrein gevind
Die vermoorde Eugene Komans.

Die lyk van ’n 12-jarige seun is Maandagoggend op ’n onwettige stortingsterrein in Port Elizabeth aangetref. Hy het brandwonde aan sy gesig en maag gehad.

Eugene Komans (12) se lyk is omstreeks 07:30 deur ’n verbyganger tussen plastieksakke, ou stukke lap en ander rommel op die stortingsterrein in Kerkstraat, Missionvale, gevind.

Buiten die brandwonde, wat vermoedelik deur kookwater veroorsaak is, het Eugene volgens die polisie ook beserings aan sy nek gehad.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het gesê ’n lykskouing sal die presiese oorsaak van die kind se dood bepaal.

Gerald Jagers (52), Eugene se pa, het Maandagmiddag sy seun se moordenaar as ’n monster beskryf.

“Dit is net ’n dier, nee, dis ’n monster, wat so iets doen. Hy is maar net ’n kind,” het Jagers gesê.

Eugene is Sondagmiddag rondom 17:00 laas deur sy ouers gesien terwyl hy voor hul huis met maats gespeel het.

Die onwettige stortingsterrein in Missionvale waar die 11-jarige Eugene Komans se lyk Maandagoggend gevind is. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Hulle het soos gewoonlik hier voor die huis gespeel. Later het dit stil geword, hulle was weg, maar ons het aangeneem hy het saam met die maats by hul huise gaan speel.”

Jagers en Beatrice Komans (43), Eugene se ma, het dit ook nie vreemd gevind toe hul seun nie Sondagaand weer by die huis opdaag nie, aangesien hy blykbaar gereeld die aand by ’n maat deurbring.

Eugene sou gewoonlik die volgende oggend, nog betyds vir ontbyt, by sy ouerhuis aankom. Maar Maandagoggend was dit net ’n vrou met die skoknuus van hul seun se dood wat by hul huisdeur aangeklop het.

Eugene se lyk is sowat 200 m van sy ouerhuis op die ashoop aangetref.

“Hy is my enigste seun. Ek het nog twee dogters, maar hy was my enigste seun,” het Beatrice met ’n strak gesigsuitdrukking gesê.

Jagers het sy seun, ’n leerling aan die Normoyle Primary School in Missionvale, as ’n kind beskryf wat daarvan gehou het om in die buitelug te speel, ’n seun wat vriendelik, gelukkig en baie gehoorsaam was.

“Ons weet nie wie so iets sal doen, of hoekom nie. Op die oomblik weet ons nie wat die oorsaak van sy dood was nie, ons sal wag vir die lykskouing.

“Dit is hartseer om jou kind so te sien.”

Intussen het ’n vrou wat Maandagmiddag verby die onwettige stortingsterrein gestap het waar Eugene se lyk gelê het, gesê die hele gemeenskap is geskok oor die voorval. “Hier is al mense geskiet deur bendelede, maar ’n kind is nog nie op so ’n wrede manier hier vermoor nie.

“Ouers sal hul kinders veilig by die huis moet hou, selfs nou in die skoolvakansietyd, want niemand weet wat die rede vir die kind se moord is nie,” het die vrou gesê.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord.

Janse van Rensburg het gesê die polisie vra ook die gemeenskap se hulp met inligting wat hulle moontlik in die ondersoek kan help. Kapt. Henk Rall kan by 082 302 6419 of 041 409 1007/1014 gebel word.

Meer oor:  Eugene Komans  |  Port Elizabeth  |  Stortingsterrein  |  Seun  |  Lyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.