Die polisie in Gauteng wou Sondag nie die identiteit van ’n sewejarige seun wat in die vroeë oggendure in sy huis in Soweto doodgeskiet is, bekend maak nie.
“Drie mans is ook gewond toe skote Saterdagoggend vroeg buite die hut in Phiri in Soweto geklap het waar hulle geslaap het,” het brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, gesê.
Die polisie het met ’n groot soektog na die aanvallers begin.
Volgens Peters het ’n onbekende aantal aanvallers Saterdagoggend omstreeks 02:30 op ’n hut in Khaphamali-straat geskiet.
“ ’n Sewejarige seun is doodgeskiet. Drie mans is gewond en hospitaal toe geneem. Die motief vir die aanval is nog onbekend. Klagte van moord en poging tot moord word ondersoek,” het Peters gesê.
Daar is ’n beroep gedoen op enigeen met inligting oor die voorval om die Moroka-polisiekantoor of die polisie se Stop Misdaadnommer op 08600 10111 te kontak.