Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Seun val glo nog mense aan ná hy onnie in gesig steek
Karin Coetzee
Karin Coetzee, ’n Afrikaans-onderwyser van die Laerskool Edenhoogte, ná die aanval waarin ’n oudleerling haar verskeie kere in die gesig gesteek het. Foto: Deon Raath

’n Tienerseun van Edenburg in die Vrystaat, wat tronkstraf van twee jaar uitdien nadat hy sy oud-onderwyser met ’n mes aangeval het, het na bewering reeds drie keer uit ’n jeugsorgsentrum ontsnap. Boonop het hy na bewering nog twee mense aangeval en ’n meisie verkrag.

Die seun (nou 17 jaar oud) mag nie geïdentifiseer word nie omdat hy minderjarig is.

Hy is op 12 September 2018 gevonnis nadat hy Karin Coetzee (35), ’n onderwyseres aan die Laerskool Edenhoogte op die dorp, in 2017 herhaaldelik met ’n jagmes in haar huis gesteek het.

Hy was 15 jaar oud toe hy haar nege keer gesteek het, onderskeidelik in die wang, neus, bolip, kop, nek en hande. Die snye aan haar neus en bolip was tot aan die binnekant van haar mond.

Hy dien sy straf in die Thabo Mofutsanyana Secure Care Centre in Qwaqwa in die Oos-Vrystaat uit, maar het na bewering in 2019 nie minder nie as drie keer ontsnap.

Coetzee sê sy was geskok toe kinders in haar klas in Julie verlede jaar vir haar sê dat die seun in die dorp rondstap.

“Dit is nie lekker om te weet hy loop vry rond nie. Hy toon geen berou nie.

“Toe hy die tweede keer, tussen 26 en 29 Julie, ontsnap het, het ek die sorgsentrum geskakel en die persoon daar het vir my gesê hy is nog daar. Ek het gesê dit kan nie wees nie, want hy is in Edenburg gesien.

“Hy het toe gesê hy het gehoor die seun het ontsnap. Niemand laat weet jou hy het ontsnap sodat jy ten minste weet wat kom nie. Dit is duidelik hy is nie gerehabiliteer nie,” sê sy.

Karin Coetzee
Karin Coetzee ná die aanval. Foto: Deon Raath

Gedurende sy drie ontsnappingspogings het die seun glo twee mense, ’n vrouebewaarder in die sorgsentrum en ’n aanklaer, met ’n mes aangeval en na bewering ’n meisie verkrag.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorvalle bevestig.

Coetzee het vroeër gesê sy is teleurgesteld in die regstelsel omdat die tiener slegs twee jaar tronkstraf gekry het.

“Ek is nie meer so bang soos aan die begin nie. Die aanval het my lewe verander. Dit is ’n slegte ding wat met ons gesin gebeur het, maar ek het geestelik gegroei. Ek het hom regtig vergewe en ek bid dat hy vergifnis kry sodat hy sy lewe agtermekaar kan kry.

“Dit was net deur die Here moontlik om hom te vergewe. Ek het ’n lang pad gestap, en was by ’n bevrydingskamp waar ek bevryding kon kry. Ek het vrede. Ek het aanvaar dat dit moes gebeur het sodat ek oor God se genade kan getuig.”

Volgens Coetzee het sy eers in Januarie verlede jaar teruggekeer skool toe. Sy probeer nou om weer ’n normale lewe te lei. Sy het verlede jaar teruggekeer na haar huis nadat sy nege maande lank ná die aanval nie in die huis kon bly nie.

Die Vrystaatse departement van maatskaplike ontwikkeling, wat die sorgsentrum bestuur, is om kommentaar genader en dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Karin Coetzee  |  Vrystaat  |  Edenburg  |  Ontsnapping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.