Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Siemens: Moordverdagte aangekeer
Die vermoorde Louis Siemens.Foto: Volksblad

Vernuftige speurwerk het daartoe gelei dat een van twee vermeende huurmoordenaars wat Louis Siemens (54) in Mei vanjaar koelbloedig doodgeskiet het, Woensdagaand in Phahameng in Bloemfontein in hegtenis geneem is.

Intussen het nog inligting aan die lig gekom wat daarop dui dat die sluipmoord so fyn beplan was dat die betrokkenes hul operasie selfs die vorige nag gaan oefen het.

Lt.kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die verdagte wat vermoedelik die doodskote toegedien het, is Woensdag na die Silver City-hostel in Phahameng gevolg waar hy in hegtenis geneem is.

Die man (39), bekend as “die een met die groot neus”, sal Donderdag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn. Drie ander verdagtes wat reeds in verband met die moord op Siemens, besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal, in hegtenis geneem is, moet weer op 9 November in die hof verskyn.

Woensdag is dit presies vyf maande sedert Siemens op Donderdag 10 Mei om 15:00 deur twee betaalde huurmoordenaars met vier skote in die Prellerplein-winkelsentrum se kelderverdieping neergevel is.

Dit was nadat hulle glo die vorige nag die moord op die moordtoneel gaan repeteer het en alles haarfyn uitgewerk het, word betroubaar verneem.

Stanley Bakili (36) wat op die dag van die moord reeds in hegtenis geneem is, vroeër in die hof in Bloemfontein afgeneem.Foto: Alzaine Narrain

Selfs die posisie wat die huurmoordenaars sou inneem terwyl hulle skiet nadat Siemens met ’n telefoonoproep na die parkeerterrein in die kelder gelok is, is geoefen, word betroubaar verneem.

Volgens inligting het die vermeende moordenaars die nag voor die moord by die vulstasie by Prellerplein in die huurmotor wat vir die moord gehuur was, oornag.

Die voertuig is toegerus met ’n opsporingstoestel, wat die ondersoekspan in staat stel om die presiese bewegings van die aanvallers te kan naspeur.

Dié motor is ná die moord gebruik om van die toneel te vlug.

Volgens beeldmateriaal van die winkelsentrum was die verdagtes die dag van die moord orals in die winkelsentrum rond en het een selfs Siemens in ’n restaurant ontmoet.

Siemens is luidens die klagstaat sedert 2015 afgepers en het reeds R6,5 miljoen aan van die verdagtes oorbetaal vir ’n teaterlisensie vir uitbreidings aan die daghospitaal in die Prellerplein-winkelsentrum.

Die afpersgeld is glo verder aan ander rolspelers oorbetaal.

Kibi Stanley Bakili (36) is reeds op die dag van die moord in hegtenis geneem. Twee polisiebeamptes, ’n hofordonnans en ’n speurder van die Bayswater-polisiekantoor, is op 3 September in hegtenis geneem.

Die polisie het hierna R50 000 uitgeloof vir inligting wat kon lei tot die inhegtenisneming van die twee vermeende huurmoordenaars wat die ondersoekspan telkens ontglip het deur na Lesotho te vlug.

Hulle is glo Suid-Afrikaanse burgers.

Volgens Mbambo het die polisie en private speurders vyf maande lank geen steen onaangeroer gelaat in hul pogings om die twee huurmoordenaars aan te keer, wat hulle kon vasstel na Lesotho gevlug het nie.

Netwerk24 verneem die verdagtes se bewegings in Lesotho is deurentyd haarfyn dopgehou. Die polisie en die private speurders het presies geweet na wie hulle soek en wat hul bewegings was.

Hulle het egter vir die regte oomblik gewag om toe te slaan.

Netwerk24 verneem daar is vasgestel dat die twee verdagtes dikwels na Bloemfontein reis en ’n padversperring is verlede Vrydag gehou om hulle vas te trek, maar dit was tevergeefs.

Een van die huurmoordenaars het glo Bloemfontein veral op Vrydae besoek om Moslem-dienste by te woon.

Meer oor:  Louis Siemens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.