Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sindikaat dalk besig in Muldersdrift
Jules Stobbs Foto: Facebook

Dieselfde groep aanvallers sit moontlik agter ’n vlaag aanvalle op plase en kleinhoewes in die Muldersdrift-omgewing aan die Wes-Rand van Johannesburg.

“Ondersoekbeamptes vind op die misdaadtonele dinge wat ooreenstem en veral dieselfde voetspore word opgelet,” sê Johan Nel, voorsitter van die Muldersdrift-polisiëringsforum (GPF).

Volgens statistieke van AfriForum was daar reeds ses aanvalle op plase en kleinhoewes sedert die begin van Julie in die Muldersdrift-omgewing.

“Dit is moontlik ’n sindikaat,” sê Marius Muller, nasionale veiligheidskoördineerder van AfriForum.

Hy sê onder die ses aanvalle is daar een moord en drie verkragtings. “Hierdie misdade is beslis georganiseerd. Die tendens wys dat drie aanvallers, soms meer, in die omgewing aktief is.”

Hy sê die aanvalle word ook goed beplan. “Die aanvallers weet presies hoeveel mense in die huise woon en of daar wapens in die huis is.”

Volgens Muller loop die werkers ook deur. “Die aanvallers nader die werkers vir inligting rondom die inwoners van die huise op kleinhoewe en plase. Hulle wil weet hoeveel mense daar bly en of daar vuurwapens is. As die werkers nie die inligting verskaf nie, word hulle aangeval en selfs geskiet.”

Hy sê die enigste beskrywings wat hulle tans van die aanvallers het, is dat een van hulle lang Rastalokke het.

“Die aanvallers roof kontant en elektroniese toerusting.”

Die bekende Dagga Couple, Jules Stobbs en Myrtle Clarke, is op 3 Julie deur drie rowers oorval op hul kleinhoewe naby Muldersdrift. Stobbs is tydens die aanval doodgeskiet. Foto: Facebook

Volgens hom is dit nie ongewoon dat ’n sindikaat agter die aanvalle sit nie. “Ons het dieselfde probleem in Pretoria-Noord waar daar ook onlangs verskeie aanvalle was.”

Die aanvalle in Pretoria-Noord en dié in Muldersdrift word nie met mekaar verbind nie. “Die beskrywing van die aanvallers en die uitvoering van die aanvalle verskil,” sê Muller.

Kapt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder, kon nie onmiddellik kommentaar lewer oor die moontlikheid dat ’n sindikaat agter die aanvalle sit nie.

Jules Stobbs, een helfte van die bekende Dagga Couple, is op 3 Julie koelbloedig in sy slaapkamer op sy kleinhoewe naby Muldersdrift vermoor, nadat drie aanvallers op hom en sy lewensmaat, Martle Clarke, toegeslaan het.

’n Onderonsie het glo tussen Stobbs en die aanvallers uitgebreek voordat hulle hom geskiet het.

Twee selfone en twee skootrekenaars is tydens die rooftog gesteel.

Meer oor:  Muldersdrift  |  Sindikaat  |  Moord  |  Afriforum  |  Aanvalle  |  Verkragting  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.