Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sindikaat steel duur vragmotorwiele op N1
Die diewe wat die wiele van vragmotors by vulstasies langs nie N1 in die Vrystaat en Noord-Kaap steel, het hier ’n gat in die omheining gekry om op vragmotors toe te slaan. Sodoende kon hulle die veiligheidskameras ontduik. Foto: Verskaf

’n Sindikaat wat snags die wiele van vragmotors by vulstasies langs die N1-snelweg in die Vrystaat en die Noord-Kaap steel, besorg die eienaars van vragmotors en vulstasies hoofbrekens.

Die sindikaat slaan snags toe om vermoedelik gas in die stuurkajuit te spuit sodat die bestuurders diep slaap. Daarna word die duur wiele van die vragmotors verwyder. Die skade kan tot R100 000 of meer per aand beloop.

In die jongste voorval Maandag in die vroeë oggendure is ’n veiligheidswag van die Pro-Force Security Group by ’n Bloemfonteinse vulstasie vasgebind en gedreig.

Volgens Jacques Human van Pro-Force het die diewe een van sy wagte gedreig om hulle “net uit te los” en hulle nie te pla terwyl hulle “werk” nie.

“Die diewe teiken spesifieke vragmotors, meestal Volvo’s en Scania’s.”

Volgens brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, word ook op MAN- en Mercedes-vragmotors toegeslaan.

Makhele het aan Netwerk24 bevestig dat wiele ter waarde van R190 000 in slegs drie aangemelde voorvalle in Januarie en Februarie vanjaar gesteel is.

’n Vragmotor sonder een van sy duur wiele nadat diewe dit gesteel het. Foto: Verskaf

Dit kom voor asof baie meer voorvalle plaasgevind het as wat aangemeld is.

Human sê op een perseel alleen was daar al tien voorvalle.

Neels Grobbelaar, bestuurder by die Bloem Plaza Truck Stop, sê in een van die voorvalle is die vragmotorbestuurder met ’n panga gedreig terwyl sy vragmotor se wiele verwyder is.

Grobbelaar meen die groep gaan baie slim te werk en kyk die kat goed uit die boom voordat hulle op die vragmotors toeslaan.

“Hulle weet presies waar die veiligheidskameras is en ontduik dit perfek.

“In een van die voorvalle het hulle ’n gat in my wildkamp se draad gesny en daardeur ingekom.”

Makhlele sê hulle ondersoek die voorvalle, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

“Ons kan nie bevestig dat dit ’n sindikaat is nie, maar ons sal nie die moontlikheid uitsluit nie.”

Human sê sy wagte het elke keer dieselfde wit Toyota-bakkie met ’n rooi streep langs die kant naby die toneel gewaar.

Die beskrywing van die boosdoeners stem ook in al die gevalle ooreen. Dit is telkens vier mans met pangas.

By die Shell Ultra City in Bloemfontein pleit die veiligheidsmaatskappy al maande lank dat die straatligte in Kenneth Kaunda-rylaan naby dié vulstasie reggemaak moet word.

“Dit sal die veiligheid verbeter en dit makliker maak as daar saans oral lig is. Dan kan die diewe nie so maklik in en uit beweeg nie,” sê Human.

Human sê by persele waar elektriese heinings aangebring is, het die voorvalle al heelwat afgeneem.

Meer oor:  N1  |  Sindikaat  |  Diefstal  |  Vragmotorwiele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.