
Van die drank waarop die polisie beslag gelê het nadat hulle 'n sjebeen-eienaar betrap het waar hy drank onwettig verkoop. Foto: Verskaf
’n Sjebeen-baas van Kimberley is Sondag deur die polisie op heterdaad betrap waar hy besig was om drank van sy huis af te verkoop.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die polisie het op die sjebeen in Newtonstraat in Beaconsfield toegeslaan nadat hulle inligting ontvang het dat ’n 63-jarige man drank verkoop.
“Die verdagte is betrap waar hy besig was om drank teen hoë pryse vanaf sy huis aan die publiek te verkoop,” sê Tawana.
Die man het ook nie ’n wettige dranklisensie of ’n lisensie om ’n taverne van sy huis af te bedryf nie.
Drank met ’n waarde van R4 800 is gevind en op beslag gelê.
Die man het ’n boete ontvang vir die onwettige handel in drank.
Die misdaadvoorkomingseenheid het ook Sondag in Galeshewe, Green Point en Roodepan sjebeens besoek om te sien of hulle aan die inperkingsregulasies voldoen.
In Phuthanang in Galeshewe het die polisie ’n groep mense gesien wat saamgedrom het en by nadere ondersoek gevind dat hulle besig was om drank en tuisgebroude bier te koop.
Die groep mense het nie maskers gedra nie en is aangesê om die perseel te verlaat.
Die eienaar is beboet en die bier is uitgegooi.