Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skade R30 miljoen in treinwa-brande in Kaap

Skade deur die brand Saterdagmiddag in die Kaapstadse stasie waarin treinwaens uitgebrand het, kan tot R30 miljoen beloop.

Volgens die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is sewe waens heeltemal vernietig en bly dit nog onduidelik hoe die brand ontstaan het.

Dik rookwolke het Saterdagmiddag van die Kaapstad-stasie opgestyg toe verskeie treinwaens uitgebrand het. Foto: Adrian de Kock

Metrorail het teen vroeg Sondagmiddag nog nie aangedui hoe die skade aan die waens en omliggende spoorinfrastruktuur die treindienste in die komende week sal raak nie.

Khanyisile Kweyama, voorsitter van Prasa se beheerraad, sê daar kan tans nie oor die oorsaak bespiegel word nie.

“Ons is egter diep bekommerd oor wat blyk ’n patroon van brande op treine in die Wes-Kaap te wees.”

Prasa het aangedui daar is gerugte dat ’n trein by perron 15 opgedaag het wat reeds aan die brand was, maar ander bronne dui aan dat die trein moontlik aan die brand geslaan het toe passasiers by die stasie afgeklim het.

Toe dié trein in die stasie gaan stilstaan het, het die brand na nog ’n stilstaande trein by perron 16 versprei.

Luidens ’n verklaring van Prasa het drie tieners die brandende trein opgemerk en onder sekuriteitswagte se aandag gebring terwyl die passasiers afgeklim het.

“Treinwagte het probeer om die brand te blus, maar nog waens het aan die brand geslaan.”

Kweyama het Sondag gesê dié brand is ’n terugslag vir Prasa ná die treindienste op Kaapstad se sentrale lyn na die Kaapse Vlakte onlangs herstel is.

Hy het gesê indien misdaad betrokke was, “is dit ’n sinnelose aanval teen die enigste openbare vervoerstelsel wat vir massas pendelaars bekostigbaar is”.

’n Dik rookwolk kon Saterdagmiddag van verskeie dele van Kaapstad gesien word weens treinwaens wat in die Kaapstad-stasie gebrand het. Foto: Verskaf

Sibusiso Sithole, uitvoerende hoof van Prasa, sê hy het Kaapstad net ’n paar weke gelede besoek om vas te stel hoeveel werk nodig is om die treindiens te stabiliseer.

“Ons het reeds oorweeg om nuwe treine in Kaapstad in werking te stel om die verouderde vloot te steun. Dit is ’n belangrike gebied omdat soveel mense die diens gebruik, maar nou is ons ernstig bekommerd oor of dit wys sal wees om nuwe treine te stuur.”

Die polisie het Sondag aangedui dat die brand ondersoek word, maar nie bevestig dat ’n saak van brandstigting geopen is nie.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer in die Kaapse metroraad, sê pendelaars sal Maandag “weereens die ergste verduur van nog ’n sinnelose aanval op ons spoorstelsel”.

“Terwyl Prasa die skade vasstel, gaan pendelaars die swaarste dra. Die sabotasie van ons treinstelsel is genadeloos.”

Herron het ’n beroep op die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gedoen om sake oor die beskadiging van spoorinfrastruktuur vir vervolging te prioritiseer, met die swaarste vonnisse moontlik.

Steve Harris, sekretaris-generaal van die vakbond Untu, het Saterdagaand geëis dat Bheki Cele, minister van polisie, dringend ’n taakspan aanstel om die brandstigting van treine in Kaapstad te ondersoek.

“As die polisie nie onmiddellik stappe doen om Prasa se treine te beskerm nie, gaan daar nie genoeg waens oorbly om enige diens te lewer nie.”

n Dik rookwolk kon Saterdagmiddag van verskeie dele van Kaapstad gesien word weens treinwaens wat in die Kaapstad-stasie gebrand het.Foto: @simonschre

Volgens Harris is dit die vyfde keer dat ’n Prasa-trein oor die laaste maande aan die brand geslaan het terwyl dit by ’n stasie aankom.

“Meer as ’n miljoen werkers in die Wes-Kaap maak maandeliks staat op die treinstelsel om van en na hul werk te reis.”

Verlede maand is berig dat drie treine van Metrorail al sedert Mei in Kaapstad aan die brand gesteek is, met een persoon wat in Mei dood is en vier wat beseer is naby die Ottery-stasie.

In Junie het

Netwerk24 berig oor twee waens van ’n trein, ook by die Steenberg-stasie in die suidelike voorstede, wat uitgebrand is.

Drie treinwaens het in November verlede jaar naby Century City uitgebrand, met die veselnetwerk wat so erg beskadig was dat die hele treinstelsel tot stilstand geruk is.

Meer oor:  Prasa  |  Treinwaens  |  Brandskade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.