Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skelms steel wyl hul koring aflaai

Skelms by ’n koringmeule in Pretoria het nou al só voorbarig geword dat hulle diesel, batterye en koperkabels van vragmotors steel terwyl die bestuurders wag om hul vrag af te laai.

Die situasie het só handuit geruk dat RCL Foods se meule in Pretoria (Ruto Mills) wagte moes aanstel wat die gebied waar die vragmotors wag om hul vrag af te laai, met honde patrolleer. Hulle moes dit doen omdat vragmotorbestuurders magteloos is om self op te tree. Konfronteer hulle die boewe, word hulle met pangas en vuurwapens gedreig en teruggedwing in hul kajuit.

Die misdaadvlaag het tot gevolg dat baie vervoerkontrakteurs nou weier om koring by Ruto Mills in Pretoria-Wes af te laai. Boonop sê vervoermaatskappye hul vragmotors is maklike prooi omdat hulle tot 24 uur voor die hekke van die meule wag om vrag af te laai.

’n Woordvoerder van RCL wat Vrydagoggend deur Rapport genader is, trek egter sy skouers hieroor op en het Saterdag gesê hy is by sy Kersete en sal eers daaroor moet uitvind.

Verskeie eienaars van vervoermaatskappye en vragmotorbestuurders sê die situasie by die meule het heeltemal handuit geruk. “Skelms klim onder die vragmotors deur en knip en steel koperkabels van die onderstel af,” sê een bestuurder.

Hy sê hy het die afgelope twee weke ses keer deurgeloop.

“Dit is gewoonlik groepe wat steel. ’n Klomp hou wag en die ander steel. Die laaste keer was daar drie wat knip-knip en trek.”

Die dag ná die diefstal is daar altyd mense wat hul dienste kom aanbied om die kabels te kom herstel.

Die eienaar van die vervoermaatskappy sê boere wat kan, neem hul koring nou na ander meule, maar baie het kontrakte met Ruto en het geen ander keuse nie.

Plank Teessen, die eienaar van die gelyknamige vervoermaatskappy, sê as hy gedwing moet word om oor die situasie te praat, gaan hy “vir tien minute aanmekaar vloek sonder om een keer ’n woord twee keer te sê”.

Hy skryf die probleme toe aan swak bestuur. Hy sê daar is ook nie toiletgeriewe vir bestuurders of krane sodat hulle ten minste gesig kan was nie.

“Hoekom bring Ruto Mills 60 lorries in as hulle net 30 kan help?” Teessen weier om verder koring aan te ry na die meule, “anders verraai ek die boere”. Hy sê dit het hom onlangs vier maande geneem om ’n kontrak van 5 000 ton koring te voltooi weens al die gewag.

Teessen sê selfs ná ’n vergadering verlede jaar by die meule het niks verander nie.

Flippie van Tonder van Van Tonder Transport in Waltloo, Pretoria, huur elke aand ’n gewapende wag teen R495 om sy eie vragmotors op te pas.

“Die meule laai byna stadiger af as wat hulle maal.”

Van Tonder sê dis nie eens die moeite werd om die diefstal by die polisie aan te meld nie, want niks gebeur nie.

Francois Stander, ’n koring-en-sojaboer, sê hy sit met tonne koring in silo’s wat hy nie gemaal kan kry nie weens die situasie by Ruto.“ Niemand maak geld nie, nie ons nie, nie die vervoermaatskappye nie.”

Hy beweer daar is veiligheidswagte by Ruto wat omkoopgeld vra om vragmotors toe te laat om hul vrag af te laai.

Stephen Heath, woordvoerder van RCL Foods se suiker-en-meule-afdeling, sê as kontrakteurs klagtes het oor omkoopgeld en ander probleme, moet hulle dit met die bestuur van die meule opneem. Toe Rapport hom daarop wys dat die kontrakteurs se klagtes op dowe ore val, was sy antwoord: “Ek is by hoofkantoor. Hulle moet met senior mense (by die meule) praat. Ek kan nie glo dat hulle die kantoor sal bel en niemand reageer nie”.

Heath sê hulle is bewus van tien diefstalle die afgelope agt maande en het ná ’n veiligheidsevaluering besluit om van Sondag af die wagtende vragmotors met hondepatrollies op te pas.

Hy het nie op Rapport se ander navrae, onder meer oor die lang wagtye en gebrek aan toiletgeriewe vir vragmotorbestuurders, wat reeds Vrydagoggend aan hom gestuur is, gereageer nie. Toe die koerant hom Saterdag wéér daaroor kontak, het hy gesê hy is besig met sy Kersete en kan nie help nie.

Meer oor:  Diefstal  |  Rcl Foods
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.