Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Skiet my as julle wil,’ sê 98-jarige ouma in plaasaanval

“Skiet my as julle wil,” het ’n 98-jarige ouma van Limpopo vroeg Woensdagoggend aan drie gewapende mans gesê toe hulle in ’n plaasaanval in die Dendron-distrik ’n pistool naby haar mond gehou het.

Op daardie oomblik het haar 61-jarige skoondogter die slaapkamerdeur, wat nooit toegemaak word nie, oopgemaak om te kyk wat aangaan.

“Hulle het my ouma gelos en my ma oorrompel. Sy het gesê dit het vir haar soos ’n trop wildehonde gevoel,” het ’n dogter van die vrou Woensdag huilend aan Netwerk24 gesê.

Haar 62-jarige pa is ernstig aangerand en met ysterdraad aan ’n stoel vasgemaak. “Hulle het my pa verskriklik oral oor sy lyf geslaan, so dat ek hom nie herken het toe ek by die hospitaal aangekom het nie,” het sy gesê.

Die egpaar verkeer albei in ’n ernstige toestand in die Mediclinic Limpopo in Polokwane. Die vrou is in haar regterbobeen geskiet en moes ’n noodoperasie ondergaan.

Hulle het my ouma gelos en my ma oorrompel. Sy het gesê dit het vir haar soos ’n trop wildehonde gevoel.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, is die vrou glo verkrag. Sy mag dus nie geïdentifiseer word nie.

Die aanvallers het ná 01:00 by ’n venster in die ouma se kamer ingebreek.

“My ma het gelê en lees toe sy sien dat ’n lig in die huis brand. Sy was seker dat sy dit vroeër afgesit het en het my ouma gehoor praat. Die honde wat in die huis slaap, was ook onrustig. Sy het opgestaan om te gaan kyk wat aangaan.”

Drie vermeende plaasaanvallers is Woensdag in Polokwane in hegtenis geneem. Foto: Verskaf
Die Nissan Navara-bakkie wat Woensdag in 'n plaasaanval in Limpopo gesteel is. Foto: Verskaf

Volgens haar het haar pa een van die aanvallers in die harwar platgeduik, maar sy twee makkers het hom aangeval, geskop en geslaan.

Een van die boere wat ná die aanval op die plaas gaan help het, het gesê dat “hulle sy kop herhaaldelik teen ’n muur gekap het”.

Die aanvallers het geld geëis. “My ouers hou juis weens die veiligheidsituasie nie geld op die plaas aan nie. My ma het selfs vir hulle ’n blik vol sente gegee, maar hulle het die huis geplunder.”

Die mans het met ’n platskerm-TV en wapens in die egpaar se wit Nissan Navara-bakkie gevlug.

“My ma is ’n ystervrou. Nadat hulle weg is, het sy na my pa gekruip en sy hande losgemaak. Hy het met sy laaste bietjie krag na die werkers se huise gestrompel en hulle het ’n boer gebel wat daar naby bly.”

Die boere het blitsvinnig gereageer en die polisie laat weet.

“Van ons het agter die aanvallers aangejaag,” het ’n boer gesê.

Mojapelo het gesê die polisie se hoofwegpatrollie is in kennis gestel en toe hulle die bakkie op die Matlala-pad buite Polokwane wou voorkeer, het die mans weggejaag.

My ma is ’n ystervrou. Nadat hulle weg is, het sy na my pa gekruip en sy hande losgemaak. Hy het met sy laaste bietjie krag na die werkers se huise gestrompel en hulle het ’n boer gebel wat daar naby bly.

Die polisie het die bakkie agtervolg en op die N1-suid naby Builders Warehouse in Polokwane voorgekeer.

Twee van die mans is in hegtenis geneem. Die derde het probeer weghardloop en het glo op die polisie geskiet.

“Hy is gewond en is onder polisiebewaking in ’n hospitaal in die stad,” het Mojapelo gesê.

Die polisie het op twee jaggewere, ’n platskerm-TV en twee tweerigtingradio’s in die Nissan Navara-bakkie beslag gelê. Volgens Mojapelo was daar ook vyf pistole en ammunisie in die bakkie asook ’n boks drank agter die bestuurder se sitplek, en ’n homp gaar mieliepap het daar naby gelê.

Die ouma is fisiek ongedeerd en tans by familielede.

Die verdagtes sal eersdaags in die landdroshof op Mogwadi in Dendron op aanklagte van huisbraak en verkragting verskyn. Mojapelo sê hulle sal ook in die landdroshof in Polokwane op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die besit van gesteelde goedere verskyn.

Die binnekant van die bakkie wat in ’n plaasaanval in Limpopo gesteel is. Foto: SAPD
Die Nissan Navara-bakkie wat Woensdag in ’n plaasaanval in Dendron in Limpopo gesteel is. Foto: SAPD
Die vuurwapens en TV wat in ’n plaasaanval in Limpopo gesteel is. Foto: SAPD


Meer oor:  Limpopo  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.