Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skietery in Pretoria: Omstander ‘vrees vir sy lewe’

Toe die skote begin klap, het hy vir sy lewe gevrees, vertel ’n kosverkoper wat Woensdagoggend in Pretoria sowat 100 m van die skermutseling tussen polisielede en verdagtes sake gedoen het.

“Ek was bang my koswaentjie word deur die koeëls getref, toe hardloop ek uit. Maar toe hardloop ek maar weer terug, want ek was bang die polisie dink ek is ’n dief wat probeer vlug,” sê Solly Maphothoma (42).

“Later het helikopters hier oorgevlieg.”

’n Groep verdagtes is Woensdag buite die eenheid vir forensiese patologie van die Tshwane-distrikshospitaal in Pretoria aangekeer nadat ’n skietery tussen die polisie en verdagtes uitgebreek het. Foto: Deaan Vivier
Drie polisielede is beseer en is in die hospitaal. Twee van hulle is lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en een is van die provinsiale taxigeweld-taakspan in Gauteng.

Drie polisielede en twee verdagtes is in die spervuur gewond en sterk in die hospitaal aan. Nog ’n verdagte is doodgeskiet.

Die voorval het tussen 10:00 en 11:00 plaasgevind buite die eenheid vir forensiese patologie by die Tshwane-distrikshospitaal in Dr. Savageweg in Prinshof.

Xander Loubser, woordvoerder van die Best Care-ambulansdiens, sê die nooddienste is omstreeks 10:45 na die toneel ontbied.

Volgens hom is twee polisielede per helikopter na ’n hospitaal vervoer.

’n Groep nuuskierige omstanders het op die toneel saamgedrom.

Die misdaadtoneel is met geel polisielint afgesper. Eenkant was ’n groep verdagtes wat die polisie aangekeer het.

Omstanders het selfs bespiegel dat die verdagtes ’n lyk probeer steel het.

Polisielede en verdagtes het Woensdagoggend op mekaar geskiet buite die eenheid vir forensiese patologie van die Tshwane-distrikshospitaal in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Volgens Faith Pfumbirai (32) wat snoepgoed oorkant die straat van Maphothoma se waentjie verkoop, is meer as tien skote afgevuur.

’n Groep vroue wat in die Tshwane-distrikshospitaal werk, sê hulle het die skote vanuit die hospitaal gehoor en wou kom kyk wat aangaan.

Brig. Mathapelo Peters, ’n polisiewoordvoerder, het op die toneel gesê die provinsiale taxigeweld-taakspan was besig met ’n intelligensie-gedrewe operasie toe die skietery ontstaan.

“Hulle was op die spoor van ’n verdagte wat by taxigeweld betrokke is en inligting het die polisie gelei na (waar die skietvoorval hom uiteindelik afgespeel het),” het Peters gesê.

Polisieondersoekers Woensdag op die toneel in Pretoria waar ’n skietery tussen polisielede en verdagtes uitgebreek het. Drie polisielede en twee verdagtes is in die spervuur gewond, terwyl een verdagte dood is. Foto: Deaan Vivier
Ek was bang my koswaentjie word deur die koeëls getref, toe hardloop ek uit. Maar toe hardloop ek maar weer terug, want ek was bang die polisie dink ek is ’n dief wat probeer vlug.

Die polisie wou die verdagte, wat glo in ’n konvooi van drie voertuie gery het, onderskep toe daar vanuit die voertuie op die polisielede geskiet is. Die polisie het teruggeskiet.

“Drie polisielede is beseer en is in die hospitaal. Twee van hulle is lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en een is van die provinsiale taxigeweld-taakspan in Gauteng,” sê Peters.

“Nege verdagtes is in verband met die skietvoorval in hegtenis geneem, waarvan twee in die hospitaal is. ’n Tiende verdagte is noodlottig gewond. Nog ’n verdagte is in hegtenis geneem omdat hy op die toneel in besit van ’n vuurwapen en ongelisensieerde ammunisie betrap is. Die vuurwapen was wel gelisensieer.”

Die hoofverdagte wat moontlik met taxigeweld verbind word en op wie se spoor die polisie aanvanklik was, is nog op vrye voet.

“Ons het na een verdagte gesoek, maar 11 gekry. Ons moet nog al hul profiele saamstel en kyk of hulle met ander misdade verbind word,” sê Peters.

Die polisie het op vier vuurwapens beslag gelê wat vir ballistiese toetse gestuur sal word.

Meer oor:  Pretoria  |  Verdagtes  |  Polisie  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.