Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skietery: Topspeurder aangekeer

’n Topspeurder wat drie hoëprofielsake oor die afgelope paar jaar in Stellenbosch help oplos het, sit agter tralies nadat hy glo sy kollega geskiet het.

Sers. David Hoffman (41) wat blykbaar deur ’n kollega in die kop geskiet is.

Sers. David Hoffman (40) is Saterdagaand dood nadat sy kollega hom glo in die kop geskiet het. Ná die voorval is ’n 41-jarige speurder van die bende-eenheid in hegtenis geneem.

Dié speurder verskyn Maandag in die landdroshof in Franschhoek op ’n klag van moord, en mag nie voor sy verskyning geïdentifiseer word nie.

Die skietery het glo Saterdagaand by Hoffman se huis in Skoolstraat, Franschhoek, gebeur.

Die polisie en die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) se weergawes van die gebeure verskil egter.

Volgens die polisie het Hoffman, wat van diens was, hulp van sy kollegas ingeroep toe ’n groep mense op sy huis toegesak het.

Brig. Novel Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, sê ontstoke lede van die publiek het by sy huis opgedaag. “Die polisie is uitgeroep na die toneel,” het Potelwa gesê. Die polisie het nie uitgebrei oor hoekom die groep ontsteld was nie.

Dit is nie duidelik wat daarop gevolg het nie, maar Potelwa sê Hoffman se kollega was by hom toe hy geskiet is en die kollega is in hegtenis geneem.

Opod ondersoek die saak. Sontaga Seisa, die nasionale woordvoerder van Opod, sê Hoffman is geskiet tydens ’n beweerde onderonsie.

“Daar was na bewering om 22:40 ’n onderonsie by ’n huis in Franschhoek waar ’n braai gehou is wat die oorledene sowel as die verdagte bygewoon het,” sê Seisa. “Die oorledene én die verdagte is verbonde aan die polisie se bende-eenheid. Die 41-jarige verdagte het na bewering tydens die braai sy vuurwapen uitgehaal en sy 40-jarige kollega doodgeskiet.

“Die polisiebeampte is in hegtenis geneem en sal Maandag in die landdroshof in Franschhoek verskyn. Die motief van die moord is nog onduidelik,” sê Seisa.

Opod se ondersoek duur voort.

Teen Sondagoggend was familie van die slagoffer in rou gedompel, en lede van die bende-eenheid ontsteld nadat hul ’n kollega verloor het en ’n ander moes toesluit.

“Hoekom?” het ’n kollega van Hoffman op Facebook gevra. “My hart is stukkend. Jy was altyd vriendelik, ek sal jou altyd onthou. Sterkte aan sy familie, vriende en kollegas,” skryf die vrou.

“ ’n Broer, ’n familielid, ’n neef en ’n pa. Ons almal is in stukke as ’n familie. Ek is al van 12-uur vanoggend wakker,” skryf Andre Hoffman op Facebook. “Ons was broers – nooit ooit het ek gedink die dag sal kom dat ek jou moet groet nie. Ons almal is altyd lief vir jou. Tot ons mekaar weer sien.”

Die waarnemende Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, lt.genl. Sindile Mfazi, het sy meegevoel uitgespreek teenoor Hoffman se familie.

Albert Fritz, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, het op sy beurt sy medelye uitgespreek met die familie, kollegas en vriende van die oorlede polisieman.

“Dit is ’n baie hartseer voorval. Ons weet nog nie wat gebeur het nie en sal wag vir die ondersoek om voltooi te word en totdat ons amptelike terugvoering ontvang,” sê Fritz.

Meer oor:  Opod  |  Sapd  |  David Hoffman  |  Franschhoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.