Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skietstilstand ’n luukse in Lavender Hill

Dis Vrydagaand in Lavender Hill, Kaapstad, en die strate is verbasend vol kinders wat speel. Mense fluit om die boodskap te versprei dat die polisie hier is.

“Ons kan maar in ’n ongemerkte voertuig wees, maar die mense weet wie ons is,” sê sers. Francois Pentz, van die Metropolisie.

Lavender Hill is al die afgelope paar weke in ’n bende-oorlog gewikkel. Pentz sê dit gaan hoofsaaklik oor gebied vir die verkoop van dwelms. Skietvoorvalle is byna ’n daaglikse verskynsel.

“Die probleem wat ons het, is dat die ouens geen probleem het om te skiet nie en daar is altyd onskuldige mense in die spervuur.”

“Uit my eie ondervinding sal jy 10 of 15 skietvoorvalle hê waar daar miskien net een of twee mense gewond is. Dit gee vir jou ’n aanduiding van hoe baie hier geskiet word.”

’n Polisiebeampte deursoek ’n verdagte persoon vir dwelms en wapens.Foto: JACO MARAIS

Die plan met die patrollie is om “ontwrigtende” polisiëring toe te pas om te keer dat mense beseer word. Die polisie wil ook wenke van bronne oor waar daar moontlik dwelms en vuurwapens is, opvolg.

Die Metropolisie-span deursoek ’n eiendom waar daar gereeld dwelms verkoop word. ’n Man van sowat 60 jaar oud sê hy het geen dwelms by hom nie.

Agter ’n matras buite die eiendom vind die polisie egter ses stoppe dagga en ’n Mandrax-tablet.

Die polisie praat met ’n inwoner van ’n huis waar dwelms verkoop en gebruik word in Lavender Hill. “Ons probeer net om ’n lewe te maak en vir ons kinders te sorg,” het die man gesê.Foto: JACO MARAIS

Selfs ’n bendelid wat in die huis tuisgaan, vrees vir sy vier jong kinders se veiligheid weens al die skietery. “Ons skiet nie in dié straat nie,” sê die man.

Hy is bang om te beweeg, want die bendes laat hom nie toe om in die straat dwelms te verkoop nie.

“Dis hoekom ek nie nou dwelms verkoop nie, maar vir baie mense is dit hul inkomste. Ons het almal kinders. Ons werk nie en het brood nodig,” sê hy.

Volgens Lucinda Evans, hoof van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), is hulle in afgryse oor vals inligting oor Lavender Hill wat op sosiale media versprei word. Dit sluit in ’n valse WhatsApp-boodskap wat Vrydag die ronde gedoen het oor ’n skietvoorval waarin 20 mense beseer en agt dood is. “Dit het nie gebeur nie,” sê Evans.

Volgens haar het die situasie in die gebied oor die afgelope drie dae gestabiliseer vanweë die bykomende polisiëring. “Ons is dankbaar vir die bykomende lede van die polisie wat ontplooi is.”

Die GPF het Donderdag met godsdiensleiers vergader en kyk na programme wat op die jeug gemik is.

“Ons is steeds baie bekommerd oor laerskoolkinders wat getraumatiseer word. Skole het gerapporteer dat kinders meer gewelddadig word en dat boelie-voorvalle toeneem,” sê sy.

Netwerk24 het Donderdag berig hoe daar oor die afgelope week naby drie laerskole in die omgewing geskiet is.

Volgens Evans is daar ook gevalle waar ouers paniekerig raak en na die skole hardloop om hul kinders te gaan haal. “Ons maan ouers aan om dit asseblief nie te doen nie. Die kinders is veiliger in die skool. Los hulle daar tot die skool klaar en die gebied veilig is.”

’n Polisiebeampte met dagga en ’n Mandrax-tablet waarop hulle beslag gelê het.Foto: JACO MARAIS

Intussen is Pentz se skof is byna verby. Hy deursoek inwoners by ’n huis waaroor die gemeenskap gereeld kla. “Dankie dat julle hier is. Ons waardeer dit baie,” sê ’n inwoner.

“Ons kry nie eens ’n kans om buite te wees nie. Wie wil heeldag in die huis sit? Hulle hou ons gevange,” vertel inwoners. Hul kinders is lief om by die parkie oorkant hul woonstelle te speel, maar hulle kan nie.

“Dis ons almal se plek maar dit voel asof dit net aan die bendes behoort.”

Dis die einde van dié span se skof. Huise en talle verdagte mense is deursoek. “As jy kyk na die graffiti op die mure, is hier so baie kinders met talent, maar hulle word in hul omstandighede vasgevang,” sê Pentz.

“Ons het gedoen wat ons wou doen – gekeer dat hier enige skietvoorvalle plaasvind en dat enigiemand beseer word. Sover ons weet, was daar geen ernstige voorvalle nie. Alhoewel niemand in hegtenis geneem is nie, beskou ons dit as ’n suksesvolle skof.”

Meer oor:  Kaapstad  |  Metropolisie  |  Skole  |  Dwelms  |  Skietery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.