Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skok, hartseer ná moord op ‘sonskyn’-onnie

“Ek sit in haar klas en merk vraestelle op die manier soos wat sy my geleer het en ek kan nie ophou om aan haar te dink en die reuse-impak wat sy op mense gehad het nie.”

So beskryf Stefan Jacobs, ’n onderwyser van die Laerskool Goudrand in Boksburg aan die Oos-Rand, sy gemoedstoestand ná die skokkende moord op ’n kollega, Linda Breytenbach.

Die vermoorde Linda Breytenbach (regs) saam met haar dogter, Adele Pretorius, op haar troudag in Desember verlede jaar. Foto: Verskaf

Dié 66-jarige oudonderwyseres se lyk is Sondag langs haar motor by haar huis in Rosedene in Boksburg gevind. Sy is met ’n plastieksak versmoor.

Nadat sy in 2018 ná 40 jaar by die skool afgetree het, het Jacobs die aanbieding van Afrikaans vir gr. 5- en 6-leerlinge by Breytenbach oorgeneem. Sy het vanjaar in die eerste kwartaal weer by die skool waargeneem.

“Linda het waarlik diep spore hier getrap en almal was versot op haar omdat sy altyd elke greintjie van haarself vir almal gegee het. Al die onnies, ouers en kinders gaan haar ongelooflik baie mis,” het Jacobs Donderdag aan Netwerk24 gesê.

“Linda het ’n uitsonderlike manier gehad om die positiewe uit jou te haal. Sy het selfs kinders met erge gedragsprobleme aangeraak en kon die beste in hulle sien,” het Jacobs gesê.

“Dit is so hartseer dat so ’n sensitiewe en omgee-mens se lewe op so ’n wrede manier kortgeknip is,” het Jessica Prinsloo, nog ’n kollega van Breytenbach, gesê. “Ek het byna tien jaar saam met haar gewerk en nooit ’n lelike woord oor iemand uit haar mond gehoor nie. Inteendeel, sy was ’n sonstraal in almal se lewens.”

Volgens kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, word klagte van moord en huisroof ondersoek. “Polisiebeamptes het Sondag omstreeks 13:00 op haar lyk in haar motorhuis afgekom nadat ’n klag van huisbraak ontvang is. ’n Plastieksak was om haar kop gebind. Haar hande en voete was ook vasgebind. ’n Selfoon en televisiestel word uit die huis vermis. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie,” het Dlamini gesê.

Dit is so hartseer dat so ’n sensitiewe en omgee-mens se lewe op so ’n wrede manier kortgeknip is.

Breytenbach se dogter, Adele Pretorius, het op die Laerskool Goudrand se Facebook-blad geskryf: “Mamma het nie verdien om so dood te gaan nie! Ek is bitter lief vir Mamma en so dankbaar Mamma is my ma! Mamma het altyd ander voor Mamma gestel en my altyd geleer alles is tot eer van die Here. Ons lewe is kort en in die tyd wat ons geleen is, moet ons altyd Jesus vereer.”

Verskeie boodskappe van medelye van huidige en oudleerlinge, onderwysers en ouers het op die skool se Facebook-blad ingestroom.

* Die begrafnisdiens sal Vrydag om 12:00 in die NG kerk in Witfield in Boksburg plaasvind.

Meer oor:  Boksburg  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.