Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skok-kinkel in moord op boer

Die moord op die Stellenbosse wynboer Stefan Smit verlede naweek op die plaas Louiesenhof net buite die dorp, toon geen teken van ’n “gewone plaasaanval” nie.

Stefan en Zurenah Smit, enkele weke voor sy dood.

Bronne na aan die ondersoek het die afgelope week gesê speurders worstel met verskeie vrae en is steeds nie oortuig dat die motief vir Smit se moord verband hou met die vroeëre besetting van ’n plaas wat aan hom behoort nie.

Smit se plaas Watergang, wat langs die swart woonbuurt Kayamandi lê, is in Augustus beset en daar is sowat 1 000 woonstrukture daar opgerig. Smit het in Januarie ’n uitsettingsbevel teen die besetters gekry, maar dit nooit uitgevoer nie, blykbaar omdat hy bang was dat die besetters hul dreigement sou uitvoer om die dorp te plunder.

Hy en die munisipaliteit van Stellenbosch het toe ooreengekom dat hy die 60 hektaar grond, wat die besetters na “Azania” herdoop het, vir sowat R45 miljoen aan die raad sou verkoop. Die transaksie was ten tyde van sy dood reeds beklink, maar die oordrag was nog hangende.

Smit het die kluissleutel in sy broek- sak gehad.

Smit se prokureur, Ernest van Staden, het die afgelope week aan Rapport dreigboodskappe aangehaal wat sy kliënt die afgelope maande per SMS ontvang het. Een van die boodskappe, in Xhosa, lui: “Jy sal doodgaan voor ons van hierdie grond afgesit word.” Die polisie is in besit van Smit se selfoon en bekyk dié boodskappe as deel van die moordondersoek.

Volgens Rapport se inligting benader speurders die saak met ’n oop gemoed en sê daar is geen klinkklare bewys dat Smit se moord wel met die grondbesetting verband hou nie. Die ondersoek word gelei deur die ervare sers. Stephen Adams. Saam met sy kollega sers. Marlon Appollis het hy die afgelope paar jaar vir Henri van Breda, Jason Rohde en die moordenaars van Hannah Cornelius aan die pen laat ry.

Volgens twee getuies, waaronder Smit se vrou, Zurenah, het vier gemaskerde booswigte omstreeks 18:30 verlede Sondag by die kombuisdeur van die Kaaps-Hollandse gewelhuis ingekom waar die 63-jarige Smit, Zurenah (53) en ’n 71-jarige vroulike gas aan tafel gesit het. Die aanvallers, wat Xhosa gepraat het, het Smit trompop met ’n 9 mm-pistool in die kop en bolyf geskiet. Die vroue is vasgebind voordat die aanvallers met twee selfone, bankkaarte en ’n handsak verkas het.

Meer as 1 400 strukture is op die plaas Watergang opgerig voordat Stefan Smit dit aan die Stellenbosch-munisipaliteit verkoop het. Foto: Edrea du Toit

Van die aspekte van die moord wat speurders laat kopkrap is:

  • Waarom is daar geen aanduidings van gedwonge toegang tot plaaswerf nie? Die werf is omring deur ’n dubbele heining – aan die een kant stringe lemmetjiesdraad en ’n meter verder ’n elektriese heining. Daar is ook verskeie geslotebaantelevisiekameras. Ná die doodsdreigemente was Smit blykbaar “fanaties” oor sy eie veiligheid, het mense wat hom goed geken het, gesê.

Johanna (Sussa) Petersen, die vrou wat al 21 jaar vir Smit werk, het vroeër die week gesê “Stefan sou nooit daai agterdeur oopgelos het nie”.

Johanna (Sussa) Petersen het meer as 20 jaar vir Stefan Smit gewerk. Foto’s: Edrea du Toit

“Wie het verlede Sondagaand die deur vir die moordenaars van Stefan oopgehou?” vra sy. “Die Here ken vandag my hart, as daai man (Smit) in gekom het by ’n deur, dan sluit hy, as hy uitgegaan het, dan sluit hy.

Die ondersoekspan kon blykbaar geen aanduiding van enige gedwonge toegang tot die plaaswerf vind nie.

  • Smit het, nadat hy doodsdreigemente begin kry het, ’n persoonlike lyfwag, Bradley van Eyslend, aangestel.
Die lyfwag Bradley van Eyslend (heel regs) het in ’n buitekamer wat aan die hoofhuis grens gewoon. Sers. Stephen Adams, die Stellenbosse speurder wat vir Jason Rohde help opsluit het, staan tweede van links.

Die 47-jarige Van Eyslend is ’n oudpolisiekaptein en het ná sy uittrede gespesialiseer as sekuriteitskoördineerder vir filmmaatskappye, risiko-beoordeling vir ondernemings en die beskerming van BBP’s.

Van Eyslend, ’n enkelloper, het in ’n buitekamer aan die voorkant van die huis gebly. Hy het ná die aanval blykbaar aan die polisie gesê hy was in sy kamer toe hy ’n “geraas” by sy kamerdeur hoor, asof iemand wou inkom. Dit was Zurenah Smit, wat hom geroep het. Dit was sy wat hom gewys het waar haar man in ’n plas bloed in die kombuis lê.

Rapport verstaan verder dat ’n huurder wat in ’n buitegebou op die plaaswerf bly ook die aanval gehoor het en dit onmiddellik geëien het as ’n skoot of skote wat afgevuur word.

Van Eyslend, wat steeds die afgelope week op die plaas was, het gister gesê hy wil nie met Rapport oor die moord praat nie.

  • Waarom het die aanvallers net vir Smit geskiet en die vrouens se handsakke gesteel en nie die huis verder deursoek vir waardevolle items nie? Smit het tydens sy dood kontant en die kluissleutels in sy broeksak gehad.

Rapport verstaan dat sommige van Smit se vriende en kennisse die speurders se agterdog deel en glo dat hierdie dalk nie ’n “gewone” plaasmoord was nie. Vrydag het Zurenah Smit laat blyk dat sy bewus is dat mense skinder, maar wou nie daarop uitbrei nie.

“Ons word oorstroom met aantygings wat lelik is en dit maak seer,” was al wat sy bereid was om te sê. Sy sê die begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

Esmé Smit, Stefan se eerste vrou, het die afgelope week gesê hulle wag nog vir hul twee volwasse dogters, wat albei in die buiteland woon, voordat hulle die reëlings finaliseer.

John Houston, ’n jare lange familievriend, het Vrydag dié “lelike bewerings” as "bullshit” beskryf. Hy sê Zurenah het vir hom gesê sy en Stefan was besig om ’n besoeker af te sien toe sy iemand die huis sien instorm.

“Alles het glo baie vinnig gebeur. Haar man het nie eers tyd gehad om van sy stoel op te staan nie,” aldus Houston.

Petersen sê Stefan was iemand wat “lief was vir almal".

"Hy’t met almal gemeng. Glad nie ’n rassis nie. Hy’t dit nie verdien nie. Ek moet sterk wees, ter wille van dié baas van my.”

Zurenah was voorheen getroud met die Kaapse sanger Toyer Abrahams. ’n Vriend van Abrahams het Vrydag aan Rapport gesê Smit was ’n “baie goeie man vir haar” en baie goed vir Toyer se twee dogters.

Die tweede ooggetuie van die aanval, ’n 71-jarige vrou van Switserse afkoms, het Vrydag gesê sy gaan “niks vir enige media oor die voorval sê nie”.

Midas Winana, ’n woordvoerder van die grondbesetters, het hierdie week teenoor Netwerk24 ontken dat hulle enigiets met Smit se moord te doen het. “Ons het dan geweet die munisipaliteit het die grond gekoop. Ons onderhandel met die munisipaliteit. Mnr. Stefan was nog altyd net ordentlik met ons,” het Winana gesê.

Meer oor:  Stefan Smit  |  Louiesenhof  |  Plaasaanval  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.