Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skok ná moord op intern-dokter by hospitaal

Die moord op ’n intern-dokter in haar kamer van die dokterswooneenhede by die Mankweng-hospitaal buite Polokwane stuur skokgolwe deur die provinise.

Shongile Pretty Nkhwashu (25) is Sondagaand dood in haar bed gekry nadat ’n slegte reuk ander intern-dokters laat ondersoek instel het.

Die polisie is ontbied en het haar kamerdeur, wat gesluit was, kort voor 21:00 Sondagaand oopgebreek en op ’n gruvonds afgekom.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê Nkhwashu se lyk het reeds begin ontbind. Dit is nog nie seker wanneer of hoe sy vermoor is nie.

Nkhwashu, oorspronklik van Giyani, het twee weke gelede met haar internskap by die Mankweng-hospitaal begin.

Die polisie het Maandagmiddag ’n 25-jarige man, wat glo in ’n verhouding met Nkhwashu was, in Giyani in hegtenis geneem.

Shongile Pretty Nkhwashu (25)

Hy sal eersdaags in die landdroshof in Mankweng op ’n aanklag van moord verskyn.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, het Maandagmiddag Nkhwashu se geskokte familie in Giyani besoek.

“Na ses jaar se studies en skaars twee weke in haar pos as ’n intern-dokter is haar lewe wreed kortgeknip. Hoe kan ek vir haar ouers sê alles sal weer eendag beter wees as ek weet dit sal nie wees nie,” het Ramatuba gesê.

Intussen is maatskaplike werkers na die Mayepu-nedersetting, waar Nkhwashu se familie woon, gestuur vir berading.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, vertroos ’n familielid van Shongile Nkhwashu (25), ’n intern-dokter, wat in Mankweng buite Polokwane vermoor is.

Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, sê dit is kommerwekkend dat al hoe meer professionele mense wat hulle lewens daaraan wy om geslagsgeweld uit te roei, soos dokters, verpleegsters, maatskaplike werkers en polisielede self slagoffers raak van geslagsgeweld.

“Gemeenskappe en families moet saam met die regering en nieregeringsorganisasies werk om te help in die stryd teen geslagsgeweld. Ons howe moet ook nie borgtog toestaan aan verdagtes in geslagsgeweldsake nie.”

*In ’n afsonderlike voorval het ’n 51-jarige man Maandag in die vroeë oggendure ná ’n bakleiery met sy gesin glo sy vrou en seun in die St. Rita’s-hospitaal in Jane Furse geskiet.

Mojapelo sê die pa en seun is Sondagaand na die hospitaal nadat hulle in ’n bakleiery betrokke was. Die man het glo sy vrou aangerand toe hulle seun (25) tussenbeide getree het. Die seun het die pa glo met ’n mes gesteek en albei is na die St. Rita’s hospitaal vir behandeling.

Terwyl pa en seun in die ongevalle-eenheid behandel is, het gemoedere weer opgevlam en die 51-jarige man het uitgestorm na sy motor toe. Hy het toe glo ’n vuurwapen gaan haal, in die ongevalle-eenheid ingestorm en sy vrou en seun geskiet.

Hulle is in ’n bedenklike toestand in die St. Rita’s hospitaal.

Die man het homself aan die polisie oorgegee. Hy verskyn Dinsdag in die landdroshof in Nebo op twee aanklagte van poging tot moord.

Meer oor:  Mankweng-Hospitaal  |  Polokwane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.