Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skok oor moord op musikus van Durban

Lede van die KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkes en die breër musiekgemeenskap in Durban het hul skok en hartseer uitgespreek oor die moord op die kontrabasspeler Simon Milliken (60).

Milliken, ’n boorling van Brittanje, het in Durban gewoon.

Simon Milliken (60) is Vrydag in die Burman Bush-natuurreservaat in Morningside, Durban, vermoor. Foto: Val Adamson

Hy het Vrydag in die Burman Bush-natuurreservaat in Morningside, Durban, doodgebloei nadat sy aanvaller hom in die bors gesteek het.

Sy lewe was vir sy aanvaller sy kamera werd.

Milliken het verlede jaar uit die orkes afgetree, maar hy het nog gereeld saam met sy voormalige kollegas in konserte opgetree.

Hy het ’n dag voor sy dood opgetree in die orkes se Lentekonsert in die stadsaal, onder leiding van die dirigent Perry So van Hongkong.

Milliken, ’n kranige voëlkyker, het So Vrydag op ’n uitstappie geneem deur die natuurreservaat, toe die twee omstreeks 16:00 aangeval is. Hy het vir So geskree om in die teenoorgestelde rigting te vlug.

So het ongedeerd weggekom. Hy het die polisie ontbied.

Nadat die aanvaller hom gesteek het, het Milliken bebloed deur die bosse gestrompel en neergeval.

Netwerk24 verneem die polisie se honde-eenheid het nie dadelik ’n soektog gelas nie.

Ek is hartseer en verpletter. Simon het ’n goeie sin vir humor gehad. Altyd so vriendelik en bedagsaam.
Caroline Smart

Michel Schneuwly, direkteur van Baroque 2000 en ’n voormalige trompetspeler van die orkes, sê ’n voetganger wat vroeg Saterdagoggend met sy hond gaan stap het, het op Milliken se lyk afgekom.

“Ek was daar toe die polisie hom in ’n lyksak by die bosse uitdra. Dit was iets verskrikliks om te aanskou.

“Mens sukkel nog om tot verhaal te kom met so ’n wrede en sinlose daad.

“Ek ken hom meer as 30 jaar. Hy was ’n vredeliewende mens wat alles waarin hy belanggestel het, met ywer en passie aangepak het.”

Caroline Smart, teaterbekende en eienaar van die artSmart-webwerf, sê sy het Milliken sowat 30 jaar gelede ontmoet.

“Ek is hartseer en verpletter. Simon het ’n goeie sin vir humor gehad. Altyd so vriendelik en bedagsaam.

“Dat hy vir So gesê het om van hul aanvaller te vlug, klink akkuraat. Dit is die Simon wat ons geken het,” sê Caroline.

Nog ’n vriend, William Charlton-Perkins, sê hy het baie ure in Milliken se geselskap deurgebring.

Die twee het gereeld by Milliken se huis na opera-opnames geluister.

“Rus in vrede, liewe en vriendelike mens.”

Milliken se ma en sy broer bly in Brittanje.

Sy aanvaller is steeds soek.

Meer oor:  Durban  |  Moord  |  Musikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.