Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skok oor ‘sluipmoord’ op Kaapse advokaat

Huldeblyke het Maandag ingestroom nadat adv. Vernon Jantjies, ’n bekende Kaapse advokaat en oudlanddros, Sondagaand by ’n vulstasie in Lentegeur in Mitchells Plain doodgeskiet is.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, het Maandag gesê speurders volg nog leidrade op.

“Daar word beweer dat Jantjies omstreeks 21:30 by die vulstasie se winkel uitgestap het toe talle skote op hom geskiet is. Hy is op die toneel dood.

“Die oorledene het voorheen ook vir die departement van justisie in die landdroshof in Khayelitsha gewerk,” sê Potelwa.

Adv. Norman Jantjies
Adv. Norman Jantjies

Jantjies (54) se moord het skokgolwe deur die Kaapse regsgemeenskap gestuur met van sy oud-universiteitsvriende wat hulle na Facebook gewend het. Boodskappe het op die Universiteit van Wes-Kaapland se “80’s alumni reünie”-Facebook-blad ingestroom ná die nuus van sy dood.

Van die boodskappe het gelui: “Wat ’n tragedie, ons bid vir almal wat deur sy dood geraak is”; “Dis so hartseer, wat ’n verlies, ons innige simpatie met sy familie”; en “Rus in vrede Vernie”.

“Ek is verslae, my medelye is met die familie,” het ’n ander gebruiker geskryf.

“ ’n Briljante en goeie mens se lewe is plotseling weggeruk. My innige simpatie met sy familie, vriende en naasbestaandes,” is ook geskryf terwyl ander gesê het dit is ’n hartseer dag dat een van hulle goeie vriende wat saam met hulle aan die UWK studeer het, so wreed dood is.

Ons is almal geskok oor die wyse waarop hy gesterf het.

Adv. Phillip October ’n oud-universiteitsvriend van Jantjies, het hom Maandag as sy mentor beskryf en dat hy daarvan gehou het om die gek met ander te skeer.

“Ons is almal geskok oor die wyse waarop hy gesterf het. Dié wat hom geken het, is almal platgeslaan deur sy dood.”

Volgens October, wat ook ’n Kaapse advokaat is, het hy Jantjies sowat twee weke gelede nog in die gange van die hooggeregshof in Kaapstad raakgeloop en hulle het nog met mekaar gesels en grappe gemaak.

“Dis swaar om te glo dat hy nou nie meer hier met ons is nie,” sê hy.

Byron de Villiers, van die Lentegeur-gemeenskapspolisiëringsforum, sê die gebied was die afgelope tyd betreklik stil, maar die gemeenskap is nou opnuut bekommerd oor geweldsmisdaad ná die naweek se voorval.

“Wat ons wel weet, is dat daar ’n motor stilgehou het, mense het uitgeklim en begin skiet en toe in die motor gespring en weggejaag.”

De Villiers sê daar is geen sprake daarvan dat dit ’n rooftog was nie en hy glo Jantjies was die teiken.

“Dit was duidelik ’n sluipmoordaanval. Almal weet dat die slagoffer ’n bekende dwelmbaas van Mitchells Plain in ’n hooggeregshofsaak verteenwoordig het.”

Volgens hom is daar kameras by die betrokke vulstasie, maar hulle weet nog nie of dit gewerk het nie.

Jantjies het die vermeende dwelmhandelaar Fadwaan “Vet” Murphy in die hooggeregshof verteenwoordig. Murpy word deur 229 aanklagte in die gesig gestaar, insluitende afpersing, geldwassery en dwelmhandel wat verband hou met sy beweerde dwelmsakeryk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.