Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie wil werker ondervra oor aktivis se moord

Die polisie sê ‘n werknemer van Annette Kennealy kan hulle in die ondersoek na haar moord help.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het 'n beroep gedoen dat Kenny Ramatshimbila van die Mauluma-gebied in die Vhembe-distrik van Limpopo hom by die Makhado-polisiekantoor in Louis Trichardt aanmeld.

Kennealy (50) was ’n geliefde inwoner van Louis Trichardt wat haar beywer het vir die stryd teen plaasaanvalle- en -moorde.

Haar lyk is Dinsdagoggend op haar hoewe buite die dorp gekry.

Annette Kennealy (50), 'n aktivis teen plaasmoorde, is op haar hoewe buite Louis Trichardt vermoor. Foto: FACEBOOK

Kennealy was ’n kunstenaar wat onder meer ’n skets van die sanger Anton Goosen geskilder het, en was ’n groot diereliefhebber.

Sy het Sondagaand haar laaste inskrywing op Facebook gemaak oor hoe plaasmoorde aan die toeneem is.

Goosen het Dinsdagmiddag op Facebook geskryf: "R.I.V ai Annette ek is so jammer om te hoor." Sy het in 2013 die skildery van hom gemaak.

Henk van de Graaf van TLU SA sê Kennealy het haar beywer om die gruwel van plaasmoorde- en -aanvalle nasionaal en internasionaal bekend te maak.

“As iemand soos sy, wat as ’n aktivis bekend was, self ’n slagoffer word, wonder ’n mens of daar nie meer agter die motief was as ’n ‘gewone’ plaasmoord nie,” het De Graaf in ’n verklaring gesê.

Hy sê omdat Kennealy enkele dae gelede inligting oor plaasmoordstatistieke sowel as uitsprake van Andile Mngxitama, die BLF-leier, op Facebook gedeel het, “laat dit die vermoede ontstaan dat hier meer agter haar moord sit”.

Kim Harris, Kennealy se suster, het Dinsdagmiddag gesê “alles voel te onwerklik, ek kan dit nie glo nie”.

Sy sê die polisie wou nie die familie naby die misdaadtoneel toelaat nie. “Al wat ek weet, is dat dit ’n baie brutale moord was.”

Daar is ’n ysterpyp en ’n hamer gekry waarmee Kennealy glo doodgeslaan is.

Annette Kennealy (50), 'n kunstenaar van Louis Trichardt, is op haar hoewe vermoor. Foto: FACEBOOK

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, kan nie sê hoe Kennealy dood is nie.

Harris sê haar suster se geliefde vyf honde “hardloop verwilderd op die plot rond”.

’n Lid van die plaaslike buurtwag, wat nie genoem wil word nie, sê Kennealy het elke aand ná 18:00 ingeskakel op ’n burgerbandradiokanaal wat boere in die gebied vir veiligheid gebruik. Sy het glo nie Maandagaand ingeskakel nie.

Vriende het Dinsdagoggend bekommerd geraak toe sy ook nie haar selfoon beantwoord het nie, en is na die hoewe, sowat 20 km buite Louis Trichardt op die pad na Levubu, waar hulle op haar lyk afgekom het.

Annette Kennealy by een van haar geliefde honde. Foto: FACEBOOK

Kennealy het alleen op dié afgeleë hoewe gewoon. Sy is geskei. “Sy was baie paraat,” sê Harris.

Inwoners van Louis Trichardt is erg geskok oor Kennealy, ’n boorling van die Soutpansberg-gebied, se moord.

“Min het jy geweet . . . jy is nou deel van die statistieke. So jammer, ek is tot in my siel in geskud,” het Annemarie Bothma, ’n vriendin, op Facebook geskryf.

Kennealy het ’n winkel op die dorp besit wat produkte vir diere verkoop.

Sy was vanaf 2011 tot 2014 ’n DA-raadslid in die Makhado-munisipaliteit op Louis Trichardt.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, is geskok oor Kennealy se moord. Hulle het mekaar sedert hul kinderjare geken.

“Ek sal altyd haar humor en liefde vir die kunste onthou.”

Harris sê haar suster was “groter as die lewe self”.

Nog van haar vriende het haar as geliefd en as ’n vrye gees beskryf. “Sy was ’n bondel energie.”

Ngoepe sê ’n uitgebreide soektog is begin na Kennealy se moordenaar(s).

Sy laat twee dogters agter.

Diegene met inligting oor die moord op Kennealy kan kapt. Muthuhandini Tinyani by 072 470 1444 of die polisie se noodnommer, 10111, bel.

Annette Kennealy, 'n bekende inwoner van Louis Trichardt, is op haar hoewe buite die dorp vermoor. Foto: FACEBOOK
Annette Kennealy (50). Foto: FACEBOOK
Annette Kennealy se lyk is Dinsdag op haar hoewe buite Louis Trichardt in Limpopo gekry. Foto: FACEBOOK
Annette Kennealy is op haar hoewe buite Louis Trichardt in Limpopo vermoor. Foto: VERSKAF

Meer oor:  Annette Kennealy  |  Louis Trichardt  |  Aktivis  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.