Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skokbesonderhede oor hoe Bonnievale-moord ontvou

Grusame besonderhede van hoe Tool Wessels (55) van die plaas Kapteinsdrif net buite Bonnievale, en sy vrou, Liezel, gemartel is, het Woensdag aan die lig gekom.

Tool en Liezel Wessels, met hul dogters Annelie (23) en Jana (20). Foto: Verskaf

Tool se lyk is Maandag kort ná 23:00 deur een van sy werkers en ’n plaaswaglid in ’n verlate pompstasie tussen die wingerde op sy plaas gevind.

Die pompstasie is sowat 2 km van die plaashuis af.

Hy het regop teen die muur agter plate teen die agterste muur van die murasie gesit.

Sy hande was agter sy rug vasgebind en ’n das was glo deur sy mond getrek. Hy is vermoedelik met ’n enkele koeël in die kop tereggestel.

Liezel (55) is voordat haar man oorval en vermoor is, vermoedelik deur hul vier aanvallers in die plaashuis oorval kort nadat Tool die plaas verlaat het om werkers by hul huise in die dorp af te laai.

Die Wesselse boer met druiwe en sagte vrugte.

Liezel is volgens ingeligte bronne herhaaldelik met kookwater wat in hul ketel gekook is in haar gesig en oor haar lyf gegooi. Sy is ook met ’n skerp voorwerp in haar bors gesteek.

Tool het vermoedelik met sy terugkeer op die aanvallers en sy vrou afgekom.

Liezel, wat ook vasgebind was, kon nadat die mans met haar man die huis uit is, daarin slaag om los te kom. Sy het in haar motor geklim en by ’n nabygeleë buurplaas gaan hulp soek. Daar was niemand nie.

Lede van die polisie se forensiese eenheid het Woensdag nog die plaashuis en die gebied om die huis vir leidrade gefynkam. Foto: Maygene de Wee

By ’n tweede buurplaas, Bonnievale Kelders, is sy gehelp en is die polisie en plaaswag van die aanval verwittig.

Liezel word tans in die Worcester Mediclinic behandel.

Niklaas Baadjies by die pompstasie waar hy sy werkgewer en vriend, Tool Wessels, se lyk gekry het. Foto: Maygene de Wee
Hy was ’n goeie mens. Ek werk al van 2000 vir hom en nog nooit het hy al ooit iemand op die plaas seergemaak nie.

Verdagte in hegtenis geneem

’n 19-jarige man van Lesotho is Dinsdagaand in hegtenis geneem. Drie ander mans, ook Lesotho-burgers, word nog gesoek. Al vier mans het op die plaas gewerk.

Die aanvallers was vermoedelik op soek na kontant. Ansie Baadjies, ’n inwoner op die buurplaas wat Tool en Liezel al langer as 21 jaar ken, het gesê almal het geweet dat Tool kool vir kontant aan mense verkoop. “Maar daar was nie Maandag geld op die plaas nie; Tool het reeds Vrydag die geld gaan bank. Sy dood was verniet. Hy het dit nie verdien nie, nie hy nie. Hy was een van die mees opregte mense wat ek geken het.”

Lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 19-jarige man in hegtenis geneem is. Hy sê die man sal in die hof verskyn sodra hy aangekla is.

Moordtoneel onder polisiebewaking

Die polisie het ook ’n .22-geweer, vermoedelik die moordwapen, gevind. Dit is in ’n drein op die plaas gegooi.

Die man is in hegtenis geneem nadat die selfoon van een van die ander drie verdagtes glo in sy besit gevind is. Al vier verdagtes het glo Vrydag laas kom werk.

Niklaas Baadjies, Tool se regterhand op die plaas, het Woensdag gesê hy weet nie wat hulle nou gaan doen nie.

“Hy was ’n goeie mens. Ek werk al van 2000 vir hom en nog nooit het hy al ooit iemand op die plaas seergemaak nie.”

Woensdag was die toneel by die pompstasie waar Tool se lyk gevind is, nog onder polisiebewaking.

Die gebied om die huis is met geel polisielint afgesper. Lede van die polisie se forensiese eenheid was ook by die plaashuis besig om die huis en die onmiddellike omgewing vir leidrade te fynkam.

Meer oor:  Tool Wessels  |  Liezel Wessels  |  Bonnievale  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.