Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skool besluit of moordverdagte (16) mag bly

Die beheerraad van die Hoërskool Douglas besluit volgende week of die 16-jarige seun wat in hegtenis geneem is weens die moord op Leon Keith Vermeulen (40), ’n jagter van die Noord-Kaap, in die skool mag aanbly.

Mark Southey voorsitter van die beheerliggaam, sê by navraag die skool sal eers volgende week kommentaar lewer ten einde “billik en regverdig” te wees.

“Ons sal met julle praat, maar wil nie nou kommentaar lewer oor of die seun uit die skool gesit is of nie. Dit sal volgende week beslis word.”

Die seun woon nie tans klasse by die skool by nie.

Netwerk24 verneem die hof het die seun in die sorg van ’n ouer gelaat wat in Kimberley woon en dat hy daar moet bly.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder van die Noord-Kaap, het vroeër aan Netwerk24 gesê Vermeulen het die tienerseun wat hom na bewering met ’n jaggeweer geskiet het, goed geken.

Kock het vroeër in ’n verklaring gesê Vermeulen se lyk is op 28 Maart in die veld by Schmidtsdrift met ’n skietwond in die kop gevind.

Die tienerseun is twee dae later in Douglas, waar hy gebly en skoolgegaan het, in hegtenis geneem.

’n Vroeëre foto van Charlene Croucamp. Foto: Facebook
Die vermoorde Leon Keith Vermeulen (40) met sy jaggeweer in die hand. Dit is nie duidelik of dit dié wapen is waarmee ’n tienerseun hom na bewering doodgeskiet het nie. Foto: Facebook

Hy het op 1 April in die landdroshof in Douglas verskyn en is op borgtog van R500 vrygelaat.

Hy moet weer op 18 Mei in die hof verskyn.

Kock wou nie Donderdag veel meer sê nie. “Ek kan nie bevestig of die tienerseun ’n verklaring afgelê het of wat in die verklaring staan nie, want dit is deel van die ondersoek.”

Kock kon ook nie sê met watter soort geweer Vermeulen geskiet is nie, behalwe dat dit ’n jaggeweer is. Hy weet nie of Vermeulen die eienaar van die jaggeweer was nie.

Charlene Croucamp betreur Leon Keith Vermeulen (40) se dood op Facebook. Foto: Verskaf
Die vermoorde Leon Keith Vermeulen (40) en sy jaggeweer was sinoniem, sê mense wat hom goed geken het. Foto: Facebook

Op die vraag of daar ’n stryery in die motor was waarin Vermeulen en sy vermeende tienermoordenaar glo gery het voordat dié hom na bewering met ’n jaggeweer geskiet het, sê Kock hy weet nie.

“Dit is moeilik om te sê, omdat dit glo net hulle twee in die motor was. Ons kan nie sê wat die aard van hul gesprek was nie.

“Die tienerseun sal nog nie ’n wapen mag besit nie omdat hy minderjarig is.”

Netwerk24 het vroeër berig dat Vermeulen, wat in Carters Glen in Kimberley gebly het, volgens kennisse moontlik ’n lewe uit jag gemaak het.

Netwerk24 het ook verneem dat Vermeulen se familie op Mosesberg by Schmidtsdrift boer en dat sy lyk nie ver daarvandaan nie gekry is.

Die seun se identiteit mag nie bekend gemaak word nie omdat hy ’n minderjarige is.

Leon Keith Vermeulen saam met sy hond. Foto: Facebook
Die vermoorde Leon Keith Vermeulen (40). Foto: Facebook
Die paartjie Charlene Croucamp en Leon Keith Vermeulen. Foto: Facebook

Intussen het Vermeulen se verloofde, Charlene Croucamp van Kimberley, die sangeres Donna Taggart se lied Jealous of the Angels op haar Facebook-blad gedeel.

Taggart sing onder meer “ek het nie geweet dat ek jou so gou sou moes groet nie.

“Vertel my dit is net ’n droom. Dis nie my plek om vrae te vra nie. Net God weet hoekom.

“Ek is net jaloers op die engele. Jy was altyd daar om my te vang. Verlang na die dag dat ons mekaar weer kan sien.”

Sy skryf hierby: “Ek mis jou.” Haar vriende simpatiseer met haar oor haar verlies.

Croucamp wou nie met Netwerk24 praat nie.

Meer oor:  Hoërskool Douglas  |  Leon Keith  |  Mark Southey  |  Noord-Kaap  |  Moordverdagte  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.