Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skool hou gedenkdiens vir vermoorde juffrou

Die Hoërskool Monumentpark, waar Helga van Wyk (62) byna 30 jaar lank skoolgehou het, hou Vrydag ’n gedenkdiens vir dié geliefde onderwyseres.

’n Foto van Helga van Wyk wat die Hoërskool Monumentpark by hul verklaring geplaas het.Foto: Facebook

Sy is verlede week in haar huis in Durbanville met ’n mes doodgesteek. Haar man, Johann van Wyk (65), het vyf steekwonde opgedoen, maar het die aanval oorleef.

Jo Els, Van Wyk en Helga se swaer en landdros van Tarkastad in die Oos-Kaap, sê die familie sukkel om die gebeure te verwerk.

LEES MEER: Onnie se dogter praat ná mesaanval op ouers

Els sê ook hy en sy vrou sou aanvanklik Kaapstad toe gaan vir ’n vakansie, maar nou het dit in “ ’n ander soort verlof ontaard”. Hulle het Donderdag na Kaapstad vertrek om die gedenkdiens by die skool te kan bywoon.

“Jy lees elke dag oor die goed en name en goed skuif by jou verby, maar skielik ontplof iets in jou eie gesig en dan ruk dit jou tot besinning,” sê Els.

“Ek is ’n landdros wat elke dag sit met misdaad, verkragtings, roof, huisbrake en moorde wat die een ná die ander verbygaan. Maar dit is iets anders as dit iemand na aan jou raak,” sê hy.

Volgens Els het Christi Van Zyl, onderhoof van die hoërskool, vir hom gesê die egpaar se kinders, Schalk, André en Alet, sal die diens bywoon.

LEES MEER: Vermoorde onnie was ‘liefdevol, voorbeeld vir almal’ 

Die skool wou geen besonderhede gee oor die gedenkdiens of spesiale reëlings wat die skool getref het nie.

“Ons versoek dat die lede van die publiek asseblief die familie in hul gebede sal hou, veral vir die spoedige herstel van mnr. Johann van Wyk,” lui ’n plasing wat op die skool se Facebook-blad geplaas is.

“Ons vra dat die publiek die privaatheid van die familie, onderwysers en leerders sal respekteer.”

Els sê daar sal ook volgende week ’n “meer intieme” herdenking op Helga se gunstelingwynplaas wees.

“Daar sal vriende, sommige van oorsee, en familie wees.” Die datum van die gedenkdiens is nog nie vasgestel nie.

Els sê hy verneem Van Wyk se fisieke toestand het verbeter. Els sê egter die emosionele trauma sal lank vat om te verwerk.

Leerlinge, oudleerlinge en onderwysers het hul simpatie uitgespreek op Facebook en gesê hulle sal nog lank Helga se lesse onthou.

“My innige simpatie met almal wat in rou is. Nie net was sy ’n passievolle onderwyseres vir my nie, maar ook ’n tweede ma op wie ek altyd kon staatmaak. Dit was ’n voorreg om die merkwaardige vrou te kon ken,” skryf een van haar oudleerlinge op Facebook.

Meer oor:  Hoërskool Monumentpark  |  Helga Van Wyk  |  Durbanville  |  Gedenkdiens  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.