Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skoolhoof se skietdood: ‘My ma is gedreig’

Die skoolhoof van Grabouw wat Vrydag op pad huis toe langs die N2 vermoor is, het glo verskeie dreigemente ontvang voor haar skietdood.

So sê Zameka Mfubesi (46) se dogter, Olwethu (28) wat saam met haar gewoon het in Tuscany Glen, Blue Downs op die Kaapse Vlakte.

Zameka was die skoolhoof van die Umyezo Wama Apile High School in Grabouw.

Volgens Olwethu was daar konflik tussen haar ma en “sekere drukgroepe in die gemeenskap wat dinge op hulle manier gedoen wou hê”. Sy kon nie sê of haar ma die dreigemente by die polisie aangemeld het, ook nie of dit doodsdreigemente was nie.

“My ma het baklei vir geregtigheid, was ’n baie getroue, streng persoon en het altyd streng by die reëls gehou soos voorgeskryf deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement. Daar was ongelukkig politiek in die gemeenskap en sommige het ’n probleem met haar gehad.”

Zameka Mfubesi (46).Foto: Annette Theron/Gazette

Volgens Olwethu het die gemeenskap van Grabouw nie daarvan gehou dat die skoolhoof nie plaaslik is nie, maar van Kaapstad af kom.

Zameka is volgens Olwethu 13 keer geskiet. “Dit lyk of iemand net na die bestuurderskant van die motor toe gekom het en begin skiet het,” sê Olwethu tussendeur die trane.

Sy is die oudste kind en het ’n suster, Khanyi (17), wat in Durban woon en skoolgaan.

“My ma was baie lief vir en beskermend oor haar twee dogters en was veral baie gefokus op die welstand van enige ander jong vrou. Sy het ons geleer hoe om ’n vrou te wees wat mooi na haarself kyk, opstaan vir haarself en geen nonsens vat nie.

“Ook die leerlinge by die skool het dit by haar geleer. Sy het hulle geïnspireer om hul onderrig ernstig op te neem en om veelsydig te wees,” sê Olwethu.

“Sy was mal oor saam eet en veral wanneer ek kosmaak. Ek het elke Sondag vir haar gekook en sy het dit verkies bo enige restaurantkos. Sy was baie lief vir haar familie en het vir ons baklei.

“Sy het nagte om gesit om navorsing te doen oor hoe om onderwysers se onderrigstyl te verbeter, hoe om haar skool se resultate te verbeter. Sy het omgesien na haar leerlinge en dié wat nie ouers het nie.

“Nou het sy my sonder ’n ouer gelos,” sê Olwethu en snik.

Woorde kan nie verduidelik hoe seergemaak en in hoeveel pyn ek is nie.

“Ek moet baie sterk wees vir Khanyi se part, want ek is die oudste. Ek moet haar ondersteun, want dit gaan glad nie goed met haar nie.”

Olwethu se oom het haar Vrydag gebel om na sy huis toe te kom sonder om te veel redes daarvoor te gee. Sy het gegaan, maar hy was nie tuis nie.

“Sy vrou het vir my gesê my ma is geskiet, maar nie dat sy dood is nie. Ek wou heeltyd weet, waar is sy? In watter hospitaal is sy? Ek dink hulle wou my beskerm.

“Ek het eers die nuus gekry toe my oom weer by die huis kom,” sê sy. “Woorde kan nie verduidelik hoe seergemaak en in hoeveel pyn ek is nie.”

Die familie het nog nie Zameka se lyk gaan uitken nie. Khanyi is op pad Kaap toe van Durban af om by haar ousus te wees.

“Ons gaan die begrafnis in die Oos-Kaap hou waar my ma grootgeword het,” sê Olwethu.

Meer oor:  Zameka Mfubesi  |  Grabouw  |  Skoolhoof  |  Gedreig  |  Skietdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.