Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skoolkinders van Pta vir roof vasgetrek

Hulle was vier teen een, en almal ouer as hul 14-jarige slagoffer.

Toe ’n seun se medeleerlinge van ’n Pretoriase hoërskool dus dreig om hom seer te maak, het die kind, soos die aanvallers geëis het, sy selfoon en sakgeld oorhandig.

Woensdag het die Sunnyside-polisie in Pretoria twee 16-jariges en twee 19-jariges op ’n aanklag van roof in hegtenis geneem.

“Drie van hulle is in dieselfde skool as die slagoffer, terwyl die een 19-jarige ’n uitsakker uit dieselfde skool is,” sê kapt. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder.

Die jong slagoffer het Dinsdagmiddag van die skool af gestap toe die vier hom op die hoek van Steve Biko-weg (voorheen Beatrix) en Stanza Bopape-straat (Kerk) voorgekeer het.

Hulle het hom met geweld gedreig as hy nie sy foon en geld oorhandig nie, wat hy toe gedoen het.
Polisiewoordvoerder

“Hulle het hom met geweld gedreig as hy nie sy foon en geld oorhandig nie, wat hy toe gedoen het,” sê Mavimbela.

Dit blyk egter dat die seun een van die vermeende rowers as ’n medeleerling by sy skool herken het.

Die seun het later sy pa vertel, wat die skool gekontak het.

“Die pa het Woensdag na die skool gegaan. Die polisie is ingeroep en die ander drie verdagtes is met die hulp van die skool ook geïdentifiseer.

“Al vier die verdagtes kon dus in hegtenis geneem word danksy samewerking tussen die ouer, die skool en die polisie,” sê Mavimbela.

Die twee minderjariges is later in hul ouers se sorg vrygelaat, terwyl die 19-jariges in aanhouding bly totdat die vier Vrydag saam in die landdroshof in Pretoria verskyn.

“Ons verwelkom die inhegtenisnemings en die samewerking tussen die partye, maar dit is tegelykertyd hartseer dat skoolkinders na bewering by sulke misdadige bedrywighede betrokke is,” sê kol. Nishan Moodley, stasiebevelvoerder van Sunnyside.

Dit is een van die redes hoekom lede van dié polisiekantoor nou verskeie instellings besoek om ’n bewustheid te skep by mense om eerder in groepe as alleen te stap.

* Om die slagoffer te beskerm wil die polisie in hierdie stadium nie die skool se naam bekend maak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.