Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skoot eis jong rugbyspeler

Niemand is presies seker wat Saterdagoggend gebeur het toe ’n jong rugbyspeler glo deur ’n vriend doodgeskiet is nie.

Al wat die mense weet, is dat Jacobus Beyleveldt (22) van Secunda, Mpumalanga, die “verantwoordelike ding” gedoen het toe hy Vrydagaand ná ’n kuier saam met ’n groepie vriende besluit het om oor te slaap.

Toe volg ’n tragedie wat sommige as ’n fratsongeluk beskryf.

Die polisie ondersoek egter ’n saak van moord.

Jacobus Beyleveldt (22), wat Saterdagoggend doodgeskiet is in ’n voorval wat sommige as ’n fratsongeluk beskryf. Foto: Mariëtte Krüger

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale woordvoerder, sê Beyleveldt en sy vriende het by iemand se huis in die aangrensende dorpie, Trichardt, gekuier.

“Die oorledene het besluit om oor te slaap en is kamer toe. Sy een vriend, wat ook in die kamer sou oorslaap, het Saterdag omstreeks 03:00 soontoe gegaan. Hy het glo sy vuurwapen uitgehaal om dit te bêre toe ’n skoot afgaan. Dit het die oorledene in die bolyf getref,” het Hlathi gesê.

Volgens hom het die vriend, later geïdentifiseer as Jacobus Andries Kruger (24), en die ander vir Beyleveldt na die hospitaal geneem, maar hy is met sy aankoms dood verklaar.

Die hospitaal het die polisie verwittig en Kruger is daar in hegtenis geneem.

Hy het Maandag in die landdroshof op Secunda verskyn op ’n aanklag van moord en is op borgtog van R8 000 vrygelaat.

Kruger moet weer in Oktober in die hof verskyn.

Met die kenmerkende glimlag op sy gesig mik Jacobus Beyleveldt vir die doellyn. Foto: Mariëtte Krüger

Beyleveldt se vriende sê hulle het gehoor dat hy reeds diep geslaap het toe Kruger die kamer ingekom het.

“Dit klink of die vriend, ons ken die persoon nie, sy vuurwapen op die bedkassie neergesit het toe die skoot afgaan. Kabousie (Beyleveldt) is blykbaar op slag dood, maar die groep vriende het hom opgetel en na die kar gedra om hom hospitaal toe te neem,” het een vertel.

Beyleveldt, wat by die Sasol-myn in Secunda gewerk het, is die oudste van vier kinders.

Sy “rugbyfamilie” by die Sasol-rugbyklub: Secunda sê hulle is “verslae en platgeslaan”, maar hul hart breek vir “Kabousie” se familie.

Die blitsige vleuel, wat net so gemaklik in ander posisies was, het in 2017 by die klub aangesluit.

“ ’n Besige klein mannetjie met die mooiste maniere wat respek op die rugbyveld afgedwing het. Hy het net nie teruggestaan nie en het van die grootste manne in ’n wedstryd ge-tackle,” vertel Michael van Vuren.

Hy was ’n senior speler en klubkaptein toe Beyleveldt aangesluit het.

“Daar is ’n broederskap-band onder die spelers. Ons was so lief vir Kabous, dat ek altyd gespot het hy is my ‘seun’, want ek en my vrou gaan hom nog ‘aanneem’,” vertel Van Vuren.

Hy was een van die eerste klublede wat Saterdag die skoknuus ontvang het.

“My foon het net ná 06:00 gelui. Ek het vir my vrou gesê iets is nie reg nie, want die vriend wat gebel het, sal dit nie sommer daardie tyd van die oggend doen nie.

Een van die huldeblyke vir Jacobus Beyleveldt (22), wat Saterdagoggend doodgeskiet is. Foto: Facebook

“Toe kry ek ’n WhatsApp-prentjie met die huil-gesiggie. Ek het die vriend teruggebel.”

Sy vriend se woorde was: Kabousie is weg.

Van Vuren moes die doodstyding aan die ander klublede oordra.

Mariëtte Krüger, president van die rugbyklub, sê haar reaksie op die nuus het gewissel tussen “dit kan nie waar wees nie” en “ek het seker net ’n nagmerrie gehad”.

In haar rol as die spelers se “rugby-ma” is “al die seuns diep in my hart”. Die nuus van Beyleveldt se dood het ’n “gat in my hart gemaak”, sê sy.

“Jacobus het so ’n ondeunde gesiggie, wat altyd lag. ’n Nederige seun met ’n groot hart. Daarby was hy ’n baie goeie rugbyspeler. En, as hy sou sien iemand lyk ’n bietjie af, sou hy so broederlik die persoon se hare deurmekaar vryf.”

Van Vuren sê hy wou sedert Saterdag al net ’n ietsie vir “Kabous” skryf, ’n tipe huldeblyk.

“Maar wat sê ’n mens vir die man, vir iemand wat in almal se hart gekruip het, so jonk, so vol lewe . . .”

• Kruger se prokureur kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Jacobus Beyleveldt  |  Secunda  |  Mpumalanga  |  Fratsongeluk  |  Skietdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.