Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skoot wond seun in ‘raadop’ gemeenskap

Boere word bankrot gesteel. So sê talle mense nadat ’n plaasvoorman van Viljoenskroon in die Noord-Vrystaat glo verlede week ’n vermeende 16-jarige mieliedief in die maag gewond het.

Dr. Theo de Jager

Willem van der Merwe (21) sal Maandag in die plaaslike landdroshof om borgtog aansoek doen. Hy word van poging tot moord aangekla nadat hy en ’n groep vriende glo op 12 Februarie laatmiddag vanaf ’n bakkie op mense in ’n mielieland geskiet het. Die slagoffer se vriende het weggehardloop.

Van der Merwe is ’n dag later in hegtenis geneem.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê ná die seun geskiet is, is hy glo aangerand en op die bakkie gelaai. Sy sê ’n video is geneem van hoe hy “verneder is”. Volgens brig. Motantsi Makhele, nóg ’n woordvoerder, is die seun by ’n T-aansluiting in die omgewing afgelaai, waar ’n verbyganger hom gevind en na die Boitumelo-hospitaal geneem het.

Ds. Dries Cronjé, leraar van die NG gemeente Viljoenskroon, sê plaaslike sakelui het aangebied om geld te skenk om die beseerde kind na ’n private hospitaal in Kroonstad oor te plaas.

Sedert die voorval word vier of meer diewe elke aand in dieselfde mielieland gevang, sê hy. “Boere is moedeloos oor die aanhoudende diefstal. Niemand verskoon wat gebeur het nie, maar boere is regtig gefrustreerd. Hulle ly enorme skade.”

In April 2017 is ’n seun in Coligny in Noordwes dood nadat hy glo sonneblomme gesteel het. Phillip Schutte en Pieter Doorewaard is verlede jaar tot onderskeidelik 23 jaar en 18 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Matlhomola Mosweu (15).

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, wat ook buite Tzaneen met grane en hout boer, beaam die enorme skade wat boere weens diefstal ly.

“In Tzaneen is ’n spesiale taakspan saamgestel om die diefstal van hout te ondersoek. Bome word snags afgesaag.”

’n Voormalige boer van Viljoenskroon wat nie geïdentifiseer wil word nie, sê as boere mieliediewe laat begaan, sal hulle “in jaar een sy volle oes verloor”. Hy sê in die dorp stuur volwassenes “die 16-jariges, want hulle weet hy kan niks oorkom nie”.

Die diefstal is nie omdat mense honger is nie, sê die boer. Volgens hom is die polisie nie regtig behulpsaam met diefstal vanaf plase nie. Dít het hy self ervaar toe sowat ’n halfmiljoen rand se saad sowat ses jaar gelede uit ’n stoor op sy plaas gesteel is. “Jy kan niks doen nie. Jy koop ander.”

Kort daarna het hy self 34 van sy beeste wat gesteel is in die omgewing gaan soek en teruggevind. “Polisiestatistieke toon nie die ware syfers nie, want jy mors jou tyd om dit aan te meld.” Hy moes in die verlede al wagte huur om sy mielies naby strooptyd dag en nag op te pas. “Dan moes ek weer die wagte oppas, want hulle word geïntimideer. Dit is 100% verkeerd om ’n dief te skiet, maar ek het begrip (daarvoor).”

Makhele sê die polisie het beslag gelê op drie vuurwapens, twee selfone, asook die bakkie waarin Van der Merwe gery het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.