Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skote by Pta-sentrum: Man wou vrede bewaar
JB Strydom
JB Strydom is Maandag helder oordag in die parkeerterrein van die Menlyn Maine-winkelsentrum doodgeskiet. Foto: Facebook

Hy wou net die vrede help bewaar. Toe word hy doodgeskiet in ’n winkelsentrum in die ooste van Pretoria.

JB Strydom (44), wat net vir ’n kort besoek in Suid-Afrika was nadat hy onlangs na Brittanje geëmigreer het, se familie was Maandag verslae toe hulle hoor hy is helderoordag doodgeskiet.

Strydom is in die parkeerterrein van die Menlyn Maine-winkelsentrum tromp-op in die bors geskiet toe hy glo vir ’n vriend in die bres probeer tree het.

Chantelle Ferreira, Strydom se suster, sê haar broer “was ’n regte teddiebeer van ’n mens met ’n sagte hart”.

Ferreira was op pad om haar broer se lyk te gaan uitken toe sy telefonies met Netwerk24 gepraat het.

“Dit was ’n groot skok vir ons. Een van die redes hoekom hy Suid-Afrika verlaat het was om weg te kom van die misdaad en nou gebeur só iets met hom.”

Strydom het verlede Vrydag in Suid-Afrika aangekom om sy twee dogters, nege en elf jaar oud, te kom haal. Hulle sou die komende Vrydag na Engeland terugkeer.

Strydom se 21-jarige seun, en sy vrou, wat reeds saam met hom geëmigreer het, het in Engeland agtergebly.

Strydom het vir jare ’n insleepdiens-onderneming in Kempton Park bedryf.

Ferreira sê die onlangse dood van hul ouers was die laaste strooi vir haar broer. “Hy het besluit om eerder hierdie land en al sy hartseer te los en nuut oor te begin,” sê Ferreira.

Haar broer was by die sentrum om ’n vriend te ontmoet. ’n Woordewisseling het uitgebreek tussen dié vriend en die man wat uiteindelik vir Strydom geskiet het.

“Al wat hy wou doen is om sy vriend by te staan,” sê Ferreira.

Al wat hy wou doen is om sy vriend by te staan.
Die lyk van JB Strydom is deur ’n silwer kombers bedek terwyl die polisie se forensiese span die parkeerterrein deursoek vir leidrade. Foto: Deaan Vivier

’n Kort videogreep, waarin ’n gedeelte van die bakleiery gesien kan word, is ook wyd op sosiale media gedeel.

In die video kan gesien word hoe Strydom en nog ’n man met mekaar baklei en vuiste rondswaai. Volgens ooggetuies was dié man die motorbestuurder van die vermeende skieter. ’n Derde man bring dan ’n vuurwapen te voorskyn en vuur ’n skoot af. Strydom val dan op die grond neer.

In die video kan die geskokte uitroepe van mense gehoor word toe die skoot afgaan.

Cedric Martel, eienaar van Le Martel Security, wat by die sentrum was vir ’n vergadering sê hy het ook die stryery gehoor op die verste punt van die parkeerterrein.

Hy sê die vrou in die video was glo die ma van die gewapende man.

“Sy was histeries en het die stryery probeer stop. Ná die tyd het sy aan omstanders gesê haar seun ken die man en dat hulle besigheid saam doen,” het Martel gesê.

Die polisie Maandag besig om leidrade op te volg nadat JB Strydom by die die Menlyn Maine-winkelsentrum in Pretoria doodgeskiet is. Foto: Deaan Vivier

Nog twee ooggetuies, wat anoniem wil bly, het aan Netwerk24 vertel hoe die man geskiet is deur ’n “man met donker hare en ’n lang poniestert”.

Albei het ook die stryery gesien, maar kon nie mooi uitmaak waaroor dit gaan nie.

’n Veiligheidswag wat in die parkeerterrein aan diens was, het vertel hoe daar nadergestorm is om Strydom te help.

Hy is in ’n bakkie van Fidelity-sekuriteit gelaai om met hom hospitaal toe te jaag, maar is dood nog voordat die bakkie by die parkeerterrein kon uitry.

Volgens Martel het die skieter die parkeerterrein probeer verlaat, maar hy is deur ander veiligheidswagte voorgekeer.

“Die man het self sy vuurwapen aan die polisie oorhandig toe hulle daar aankom en is deur die polisie weggeneem,” sê Martel.

JB Strydom is in dié bakkie gelaai sodat hy na ’n hospitaal geneem kon word. Hy is dood nog voordat die bakkie die parkeerterrein van die Menlyn Maine-winkelsentrum kon verlaat. Foto: Deaan Vivier

Volgens die voorlopige polisieondersoek was Strydom saam met twee ander mans by die sentrum toe die stryery plaasgevind het.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die verdagte het tydens die onderonsie na sy voertuig geloop, waarna hy glo met ’n vuurwapen na die groep teruggekeer en die man wat die situasie probeer ontlont het, geskiet het.

Peters het bevestig daar is beslag gelê op die vuurwapen.

Na verwagting sal die verdagte vandeesweek in die landdroshof in Pretoria op ’n aanklag van moord verskyn.

Strydom word oorleef deur twee susters, ’n broer, sy vrou en drie kinders.

Meer oor:  Jb Strydom  |  Menlyn Maine  |  Pretoria  |  Woordewisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.