Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Skote klap en toe is dit 'net genade van Bo'

’n Reaksiebeampte van Bloemfontein het net-net aan die dood ontkom toe gewapende rowers op hom losgebrand het.

Kobus du Plessis, hoof van die taktiese eenheid van VR Security in Bloemfontein, het Vrydagmiddag die vyf huisrowers agternagesit toe drie van die mans in Heidedal, Bloemfontein, op hom skiet.

Die rowers het die vorige dag ’n huis in Heliconhoogte beroof en sedert die voorval is daar uitgekyk vir hul silwer Audi.

Kobus du Plessis, hoof van die taktiese eenheid van VR Security in Bloemfontein, se motor se ruit is deur rowers uitgeskiet. Foto: Verskaf

Volgens Du Plessis het hy Vrydag inligting ontvang dat die motor in Heuwelsig gewaar is en hy het ondersoek gaan instel.

Die mans het weggejaag en hy en ander lede van Bloem-misdaadbekamping se WhatsApp-groep, wat bestaan uit beamptes van verskeie veiligheidsmaatskappye, buurtwaglede, polisiebeamptes en ander vrywilligers, het hulle agternagesit.

“In Heidedal het ek spoed verminder voor ’n spoedwal en toe ek om die draai kom, het ek gesien hoe mense weghardloop. Toe weet ek hulle het uitgeklim.

“Die volgende oomblik toe klap die skote. Drie van die mans het met 9 mm-pistole geskiet. ’n Vierde man het ’n aanvalsgeweer gehad, maar het dit net opgelig en nie geskiet nie omdat sy makkers voor hom ingeloop het,” sê Du Plessis.

Een van die skote het sy deur getref terwyl ’n ander deur die venster aan die passasierskant is en sy sitplek getref het. Nog twee skote het die motor se voorste buffer en die lig op die motor se dak getref.

Volgens Du Plessis het hy agteruit gery en ’n kollega se motor saam teruggestoot om hom ook onder die skote uit te kry. Die skieters het gevlug.

Die polisie het later sowat tien koeëldoppies op die toneel opgetel.

Die koeëls het Kobus du Plessis, hoof van die taktiese eenheid van VR Security in Bloemfontein, se motor se voorste buffer, deur, lig en die venster aan die passasierskant getref.Foto: Verskaf

“Ek weet nie hoe hulle my misgeskiet het nie. Dit is net genade van Bo. Ek het nie teruggeskiet nie, want ons was naby ’n skool en daar het kinders op ’n klimraam gespeel.”

Die voorval kom nadat die mans die vorige dag ’n huis in Heliconhoogte beroof en die mense in die badkamer toegesluit het.

Lt.kol. Thabo Covane, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n man het Donderdag omstreeks 13:00 aan ’n huis se deur geklop en ’n huiswerker het oopgemaak.

“Die man het gevra om met die oupa van die huis te praat. Die huiswerker het hom laat inkom waarna hy haar geskop het. Die man het ’n vuurwapen uitgehaal en ’n klapmus opgesit en die vrou na die slaapkamer gesleep.

“Twee ander mans het ook by die huis ingekom en die huiseienaar met ’n vuurwapen gedreig. Hulle het die sleutel van die kluis geëis. Hulle het die man, sy vrou en huiswerker in die badkamer toegesluit en die kluis oopgebreek,” sê Covane.

Volgens hom het die rowers met ’n rewolwer uit die kluis, twee skootrekenaars en ’n TV gevlug.

Die man kon sowat ’n uur en half later uit die badkamer kom en het die polisie gebel.

Sers. Ikobeng Hlubi, nog ’n polisiewoordvoerder, sê ’n klag van poging tot moord word weens die skietery ondersoek.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Heidedal  |  Jaagtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.