Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Skurke steel afslaers se aanlyn sake

Die SA Instituut vir Afslaers (SAIA) waarsku mense om op hul hoede te wees teen swendelary in aanlyn veilings.

Sonja Styger, administrasie­beampte van die SAIA, sê drie van die land se bekende afslaers – ClareMart Auction Group, Park Village Auctions en Rose-Innes Auctions – het die eerste voorvalle aangemeld waarin hul identiteit aanlyn “gesteel en gedupliseer is”.

“Minstens agt mense is slagoffers van swendelary waarin hulle ’n deposito op ’n voertuig betaal het wat nie bestaan nie,” sê Styger.

Styger sê ondersoeke dui daarop dat betroubare ondernemings geteiken word deurdat hul profiel op Facebook herskep word om potensiële motorkopers te bedrieg.

“Kopers word met ongelooflike pryse gelok en by navraag word hulle die opsie gegee om die motor te reserveer of om die motor voor die veiling te koop. Vervalste fakture word dan in die naam van die onderneming aan die kopers uitgereik en so word voornemende kopers uit hul geld bedrieg.”

Sindikate se modus operandi is om voornemende kopers in te lig dat baie kopers in die voertuig belangstel en dat hulle die voertuig kan koop voordat dit opgeveil word.

“Wanneer hulle by die adres opdaag om die voertuig te besigtig, kom hulle eers agter dat hulle bedrieg is.”

Marc Roberts, finansiële bestuurder van ClareMart, sê in hul geval het ’n sindikaat motors teen lae pryse op Facebook geadverteer en die voornemende kopers wat navraag gedoen het, was onder die indruk dat hulle sake met ClareMart doen.

“Kopers is onder die indruk hulle onderhandel met ons as ClareMart Auctioneers, maar hulle is eintlik besig met die sindikaat met die misleidende naam Clare-Mart Car Auctions.”

Tracey Rose-Innes, senior administrasiebestuurder van Rose-Innes Auctions, sê bedrieërs het ’n vervalste Facebook-blad in hul naam geskep om kopers van die egte Facebook-blad weg te lok.

“Hulle het selfs ons fisieke adres gebruik, maar hul selfoonnommers is gebruik pleks van ons landlyn en ons e-posadresse.

“Nadat ons die voorval by die relevante owerhede aangemeld het, was swendelaars selfs skaamteloos om ons tuisblad te kopieer om ons pogings teë te werk.”

Graham van Niekerk van Park Village Auctions sê hulle het bewus geword van die bedrog toe slagoffers hulle begin bel oor motors wat hulle deur “Facebook” gekoop het.

“Ons wil ander betroubare afslaers waarsku en hulle aanraai om hulself en hul kopers in te lig oor sulke bedrog.

Ons het ook veldtogte op sosialemediaplatforms begin om mense oor hierdie voorvalle in te lig.”

Styger sê mense moet bewus wees van die taktieke wat gebruik word om hulle te bedrieg en moet verdere voorsorgmaatreëls tref voordat daar aanlyn vir die produk betaal word.

Vermy bedrieërs so:

  • Afslaers sal nie ’n deposito vra vir besigtiging nie, maar sal ’n deposito vra om vir die veiling te registreer en te bie.
  • Alle voertuie wat deur die bank teruggeneem is, sal slegs op ’n veiling verkoop word, en dieselfde geld gewoonlik likwidasies en insolvensies;
  • Geen onderhandelings sal vooraf gedoen word voordat ’n voertuig op die veiling geplaas word nie;
  • Indien jy twyfel, vra ’n landlyn en ’n opvolgoproep om die bankbesonderhede in swart-en- wit te bevestig deur ’n e-pos en nie deur WhatsApp nie. Bevestig waar moontlik dat jy besig is met die regte onderneming;
  • Dring aan op ’n faktuur met briefhoof en die maatskappy se besonderhede, sowel as die verwysingsnommer, indien jy ’n betaling moet maak.
  • Wend elke poging aan om die rekeningbesonderhede te bevestig; en
  • Banke sal nooit die voertuie voor ’n veiling verkoop nie. As jy die voertuig wil hê, moet jy die regstreekse veiling bywoon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.