Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Slagoffer se suster 4 jaar ná moord ‘woedend’ vir sloer-polisie
Gavin Wolfswinkel (32) wat twee weke voor sy troue vermoor is. Foto: Verskaf

Die uurglas loop leeg om enigsins ’n deurbraak in ’n plaasmoord van meer as drie jaar gelede te maak, weens die “onbevoegdheid en luiheid” van die Boschkop-polisie in Pretoria, beweer familielede.

Selfoonrekords word ná vier jaar deur diensverskaffers vernietig – maar dié rekords kan dalk help om verdagtes in die moorde op Gavin Wolfswinkel (32) en ’n werker, Lucky Sithome (30), vas te trek.

Die twee is op 15 November 2015 deur vermoedelik drie aanvallers in Mooiplaats, oos van Pretoria, doodgeskiet.

Tog spook Gavin se suster en ’n private ondersoeker steeds dat die polisie daardie selfoonrekords moet bekom.

Die koeëlpunt wat die polisie op die toneel “misgekyk” het (foto vergroot).Foto: Verskaf

Chnay Wolfswinkel-Coetzer vrees die tyd raak min en is bereid om die rekords self aan te vra; wat in ’n private hoedanigheid R10 000 per nommer kos.

“En daar is verskeie nommers wat ons moet naspoor, terwyl die polisie dit gratis met ’n 205-dagvaarding kan bekom,” sê sy ontsteld.

Daar is nog bewysstukke wat sy en ’n private ondersoeker “op ’n skinkbord” vir die polisie kan aanbied, nadat hulle self ingespring het om haar broer se moord te ondersoek.

Die ondersoekbeampte(s) reageer bloot nie op hul, of AfriForum, se versoeke vir ’n vergadering nie.

Dit selfs nadat ’n landdros vroeër voet dwars gesit en ’n ordentlike ondersoek geëis het.

Polisie ondersoek polisiestasie

Netwerk24 het verslae en verklarings wat Wolfswinkel-Coetzer, die private speurder en AfriForum opgestel het met inligting wat húlle het, ’n lys klagtes teen die Boschkop-polisie, en onbeantwoorde vrae.

’n Opsomming is aan die polisie op provinsiale vlak gestuur, wat met “kommer” hiervan kennis neem.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê hulle beskou die bewerings van wanhantering van die saak in ’n ernstige lig.

“Die klagte is geëskaleer na die (polisie se) provinsiale bestuur met die oog op ’n interne ondersoek om te bepaal of daar enige wanpraktyk aan die kant van die ondersoekers is,” sê Peters.

Die tang waarmee die verdagtes die heining om Gavin Wolfswinkel se erf op ’n plaas geknip het. Die polisie kan ook nie vrae oor dié bewysstuk antwoord nie. Foto: Verskaf

Wolfswinkel is destyds twee weke voor sy troue vermoor.

“Van die begin af was die Boschkop-polisie van geen hulp nie. Trouens, hulle, bure en boere van die omgewing het die misdaadtoneel vertrap,” sê Wolfswinkel-Coetzer.

“Hulle het daardie aand oral rondgeloop, foto’s van my broer (se lyk) geneem en dit op Facebook geplaas – nog voordat ons daar aangekom het.

“Niks was afgesper nie, geen DNS is van die toneel of die goed wat die aanvallers agtergelaat het, geneem nie. Dit is tog standaardprosedure,” sê Wolfswinkel-Coetzer.

Twee weke ná die moorde het haar ouers en haar broer se verloofde ’n koeëlpunt op die toneel gekry wat die polisie misgekyk het.

Die ondersoekbeampte, ’n adjudant-offisier, is gebel.

Hy was, aldus Wolfswinkel-Coetzer, besig om te braai en het nie eens die bewysstuk kom haal toe die private ondersoeker daarop aandring nie.

’n Ander ondersoekbeampte het later oorgeneem.

Die ondersoek het egter steeds stilgestaan.

 Lucky Sithome
Lucky Sithome Foto: Verskaf

Ontnugtering op ontnugtering

Wolfswinkel-Coetzer en die private ondersoeker het – op die familie se eie onkoste – self begin speurwerk doen en op sekere dokumente aangedring.

Ontnugtering op ontnugtering het gevolg. Luidens die nadoodse verslag was die lyk waarop die outopsie gedoen is by name, ouderdom en beskrywing, haar pa s’n.

Gavin Wolfswinkel (die oorledene) het “die lyk uitgeken”.

’n “Tikfoutjie” was die antwoord toe die familie hieroor vra.

Die holster van een van die aanvallers wat op die toneel agtergebly het. Die polisie het dit wel ingeneem, maar niemand weet of daar forensiese toetse op gedoen is, of waar dit tans is nie.Foto: Verskaf

Daarby het die verslag aangedui dat die oorledene in die nek geskiet is, terwyl Wolfswinkel dood is aan ’n kopwond.

Wolfswinkel-Coetzer wou ook by die polisie weet of daar DNS of vingerafdrukke op die projektiel, haar broer se klere en die bewysstukke wat op die toneel was.

“Gavin het fisiek met van die aanvallers baklei. Daar moet tog iets soos touch-DNA wees? Dalk bloed van die verdagtes?”

Die polisie het glo geantwoord dat die klere saam met haar broer se lyk veras is.

Die lykbesorger ontken dit – hy moet alles aanteken wat veras word, en Gavin se klere is nie op daardie lys nie.

“Toe beweer die forensiese afdeling die polisie het die klere. Daarna sê die polisie eers geen DNS is van die klere geneem nie, en later dat daar wel geneem is, maar niks gekry is nie.

AfriForum se hulp gevra

Chnay Wolfswinkel-Coetzer het ook twee maande gelede AfriForum versoek om te help om druk op die polisie uit te oefen.

Hillel Coetzer, Noordstreek-veiligheidshoof van AfriForum, sê die Boschkop-polisie versuim hul grondwetlike plig om die saak te ondersoek.

“Hoewel daar kommunikasie met die betrokke ondersoekbeampte was, is daar geen vordering nie,” sê hy.

Hy het selfs aan die stasiebevelvoerder geskryf.

Niks het gebeur nie.

“Ons gaan hierdie saak tot op nasionale vlak dryf, en help intussen die familie met slagofferbystand,” sê hy.

* Die Wolfswinkel-familie bied ook steeds ’n beloning aan vir inligting wat sal lei tot ’n suksesvolle vervolging.

Mense met inligting kan Wolfswinkel-Coetzer bel by 079 522 1219.

“Ek wou dit onafhanklik laat toets, toe hoor ons die klere is vernietig omdat die kluis vir bewysstukke vol was en die saak ’n dooiepunt bereik het,” sê Wolfswinkel-Coetzer.

Niemand weet waar die holster of tang is wat die aanvallers op die toneel agtergelaat het en wat as bewysstukke ingegee is nie.

Die vermoorde se koplig, mes en sambok waarmee hy daardie aand na buite is, is op die toneel gelos.

Niemand weet, volgens Wolfswinkel-Coetzer, waar die koeëlpunt is wat haar ouers gevind het nie.

“Ek is witwarm van woede,” sê sy.

Saak byna gesluit

Verlede jaar het die familie ’n oproep gekry om ’n informele geregtelike ondersoek na Wolfswinkel se moord by die hof by te woon.

Dit is, sonder die familie se medewete, van ’n moordondersoek na ’n geregtelike ondersoek verander en beamptes was op die punt om te bevind dat die dossier – ’n skrale vier bladsye – nie genoeg bewyse het om die moordsaak suksesvol af te handel nie.

Die familie het hul eie bewysstukke aan die hof getoon.

Die landdros het die dossier aan ’n senior aanklaer oorhandig met die opdrag dat die polisie behoorlike ondersoekwerk moet doen.

Peters het die naweek bevestig dat daar reeds gesprekke tussen die polisie en die vervolgingsgesag was ná die hof se beslissing, sowel as oor die klagtes oor die polisie se ondersoekwerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.