Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Slagoffers vertel van gru-aanvalle

Terwyl die regering swyg oor misdaad teen boere, word booswigte toenemend wreder, skryf Hendrik Hancke.

Sonja Mostert (52) by die venster waardeur sy ontsnap het. Foto: Deon Raath

1. Gemartel met kookwater

Schalk Coetzee en sy vrou, Lana, is geskop, geslaan en met kookwater gemartel, maar dít gaan hulle nie keer om weer te boer nie.

“Drie individue gaan my nie teenoor ’n hele nasie laat verhard nie. Sodra ons herstel het, gaan ons terug na my geboorteplaas,” sê Schalk (63).

Hy en Lana (63) is ’n maand gelede op die plaas Libertas, naby Reivilo in Noordwes, aangeval en vir dood gelos. “Ons het ons nooit probeer teësit nie. Ons het vir hulle alles gegee wat ons gehad het,” sê hy.

Lana was op die rekenaar besig toe sy ’n geluid hoor.

Rudi Botha (60) by die vensters waar die moordenaars toegang gekry het. Foto: Deon Raath

“Toe ek omkyk, tref ’n geweldige hou my van die kant af. Hulle het my geslaan en geskop en geslaan.”

Haar wangbeen is gebreek, haar neus op drie plekke, haar oogkas is vergruis en moes herbou word. Haar skedel is gekraak en hulle het haar oog uit posisie geskop. Haar oordrom het gebars.

Lana, wat skaars ’n week uit die hospitaal is, voel aan die kneusplekke onder haar oë.

“Hulle kon gelukkig meeste van die werk deur my mond doen, so daar gaan nie letsels wees nie.”

Maar hulle lewe, sê Schalk.

“Iewers sê dit ons het nog ’n doel. As ons nie teruggaan plaas toe nie het hulle gewen. Ons is ’n tweede lewe gegun en ons gaan die beste daarvan maak.”

Schalk (63) en Lana Coetzee (63) is op 6 Junie deur drie mans aangeval en met kookwater gemartel. Foto: Elizabeth Sejak

Hy self het ses gebreekte ribbes nadat een van die rowers hom met ’n geweerkolf geslaan het en hom so hardhandig met doringdraad geboei het dat hy ’n operasie moes ondergaan om senuwees in sy hand te herstel.

“Twee ribbes het verskuif. Dit neuk nou met my longe. Ons was nou weer in dat hulle kon vog aftrek.”

Sy rug is met kookwater verbrand. “Ons het hulle tot ons kaarte en nommers gegee. Toe gaan kook hulle die ketel. Dit wat oor was, het hulle oor my vrou se kop gegooi,” sê Schalk.

Die rowers het die egpaar se kar volgepak met alles van gereedskap tot ’n stofsuier en die plaasbakkie se battery.

Lana het haarself losgewoel en meer as ’n kilometer deur die veld na bure gehardloop.

By Schweizer-Reneke het die vermeende aanvallers deur ’n padblokkade gejaag en toe val hulle vas in ’n rivierbedding op ’n grondpad. Hulle het uitgespring en weggehardloop, maar die polisie en ander boere het saamgewerk en hulle aangekeer.

Lana se gesig.

Twee verdagtes is weer vrygelaat, maar die derde, Thembile Cornelius Plaatjie (38), word aangekla van poging tot moord, voertuigdiefstal en huisroof.

2. ’n ‘Spanner’ en ’n pistool

Verlede Woensdagaand, op ’n Lusthof-kleinhoewe buite Pretoria, het ’n rower vir Sonja Mostert (52) gesê hulle het haar kêrel, Schalk van Heerden (55), reeds doodgemaak. Die man het haar slaapbroek uitgetrek, sy gulp oopgemaak en gedreig om haar te verkrag.

“Ek het hom in die oë gekyk en herhaaldelik gevra, ‘ken jy vir God?’. Toe vra ek hom of hy ’n vrou en kinders het en hoe hy sal voel as iemand só iets aan hulle doen,” sê Mostert.

Sy sê haar geloof het haar gered. “Toe loop hy uit en sluit die deur agter hom.”

Mostert en Schalk (van Heerden) is vroeër die aand in hul TV-kamer oorval.

Schalk se rug.

“Toe ons weer sien, staan twee gemaskerde mans in die gangdeur. Een het ’n bobbejaan-spanner gehad en die ander ’n pistool,” sê Schalk.

Die mans het hul hande met elektriese kabels en skoenveters vasgemaak. “Hulle het R18 000 wat Schalk vir salarisse getrek het in die huis gekry en nog so R850 in my beursie,” sê Mostert.

Die mans het hulle vir ongeveer ses uur aangehou voordat hulle met yskaste, klere, skoene, meubels en die paartjie se voertuie weg is. Niemand is nog aangekeer nie.

3. Drie gemaskerde mans

Rudi Botha en sy vriend Edwin Kotze was op Saterdag 21 Junie besig om voor die kaggel ’n glas wyn te drink.

“Edwin wou ry en toe ons opstaan, kom drie gemaskerde mans van die slaapkamer se kant af gestap,” sê Botha.

Die mans het hulle beveel om hul klere uit te trek en te lê.

“Ek het gesien Edwin het ook gaan lê. Die volgende oomblik toe kom hy regop en begin smeek dat hulle ons nie moet doodmaak nie. Toe skiet hulle hom in die nek.”

Schalk van Heerden en Sonja Mostert se hele huis i
Schalk van Heerden en Sonja Mostert se hele huis is omgekeer.

Hy sê hy dink die mans het geskrik vir die skielike beweging.

“Ek dink nie hulle het gekom om dood te maak nie,” sê Botha.

Die twee mans het ure kaal op die sementvloer gelê terwyl die rowers in die huis doenig was. Toe hulle uiteindelik weg is, het Rudi losgekom en probeer opstaan, maar hy het in Edwin se bloed gegly.

“Ek het toe ’n mes in die hande gekry en vir hom gegee. Edwin was teen daardie tyd baie swak. Die laaste ding wat hy gedoen het, was om my hande los te sny.”

Edwin is op die toneel dood.

“Hulle het borde, vleis, my selfoon en my horlosie gesteel. Meeste van my eiendom is later teruggekry, maar niemand is gevang nie.”

Die afgelope Dinsdag is Fernando Dete (21), ’n plaaswerker, doodgeskiet op ’n plaas in die De Wagensdrift-omgewing buite Pretoria.

Die plaaseienaar, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, sê hulle doen hul bes om die plaas te beveilig.

“Ons het diefwering aan die vensters wat oor is en veiligheidsroldeure binne. Ek het ander vensters met bakstene toegebou en selfs dit help nie.”

Hy sê plaasaanvalle is nie noodwendig ras-gedrewe nie.

“Dis ekonomiese misdade. Dis desperate mense wat desperate dinge doen om te oorleef.

“Die rowers het vir my werkers gesê hulle soek die boere, nie die werkers nie, want hulle weet plaaswerkers het nie geld nie,” sê die boer.

Meer oor:  Lana Coetzee  |  Schalk Coetzee  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.