Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Sluit oop, of ek blaas jou kop van jou skouers af’
Gewapende rowers het Maandagaand op die Ottawa Spur in Edenvale toegeslaan. Foto: Jana Marx

“Ek is dankbaar almal wat gisteraand hier was, lewe nog,” het ’n verligte Emmanuel Masuku, bestuurder by die Ottawa Spur in die Karaglen-winkelsentrum, Edenvale, gesê, nadat vier gewapende mans die restaurant Maandagaand beroof het.

Hulle is met minstens R20 000 se kontant, asook klante en personeellede se selfone, vort. Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het bevestig dat een verdagte reeds in hegtenis geneem is.

Volgens Masuku het die rowers eers doodluiters geëet en alkohol gedrink voordat hulle toegeslaan het.

“Hulle het ingekom en by verskillende tafels gaan sit en kos en drank bestel. Die laaste ou het alleen gesit. Ek het dadelik gedink hy lyk verdag, maar ’n mens dink mos maar jy is onnodig paranoïes, so ek ignoreer toe die gevoel,” sê Masuku.

Die verdagte na wie hy verwys, is volgens hom lank en goed gebou met ’n baie donker gelaat. Hy het in ’n stadium opgestaan en verby Masuku in die rigting van die badkamer geloop.

“Skielik het hy by my gestop en gevra: ‘Weet jy wie ek is?’ Toe ek hom verbaas aankyk, het hy sy baadjie effens opgelig en ek kon sy wapen sien. Ek het dadelik besef wat aan die gang is en moes verbete kophou.”

Klante en personeellede is gedwing om plat op die grond te lê totdat die rooftog verby was. Baie is hul besittings soos selfone kwyt.Foto: Jana Marx

Masuku is gedwing om die kasregister oop te sluit, waaruit hy die kluis se sleutel moes haal. “Ek het geen idee hoe hy geweet het die sleutel is daar nie.”

Die rower het hom toe na sy kantoor laat loop om die kluis oop te sluit, met die woorde: “Sluit oop, of ek blaas jou kop van jou skouers af.”

Masuku moes ook die kringtelevisiekameras uit die muur breek en in die rower se sak pak. “Hy het aan niks gevat nie en my gedwing om alles vir hom te doen. Ek moes ook my selfoon vir hom gee en op die grond gaan lê terwyl hy die kontant in die sak pak.”

Toe die rower uit is, het Masuku van die vloer af opgestaan en teruggegaan na die restaurantgedeelte, waar die rooftog nog aan die gang was. Hy het teruggehardloop en homself in die kantoor toegesluit.

Die ander rowers het sowat 20 klante op die grond gedwing en hulle van hul besittings soos selfone beroof. Van die kelners is ook hul selfone kwyt, volgens Masuku.

Collette Maate was in die kombuis besig toe een van die kelners instorm en net “roof” fluister. Al wat sy gesien het, is hoe die gewapende man saam met Masuku stap. “Ek kon nie sien waarmee hulle besig is nie, maar die manier hoe die man Masuku hanteer het, het vir my gesê hy is gewelddadig. Ek het die paniekknoppie gedruk,” sê Maate.

Mduduzi Makhaya, ’n kelner, het gesien toe die rower met Masuku begin praat en na die wapen wys. “Hy het my gedwing om voor by die toonbank te gaan sit en nie ’n geluid te maak nie. Ek het groot geskrik,” sê hy.

“Niemand het seergekry nie,” sê Masuku se verligte lynbestuurder, John Wisky. “ ’n Vrou het flou geword van skok, maar daar is geen beserings nie.”

Meer oor:  Spur  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.