Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Smit-getuie val glo eks met mes by werkplek aan

’n Staatsgetuie in die saak oor die moord op Stefan Smit (62), wingerdboer van die Louiesenhoflandgoed buite Stellenbosch, het Woensdag probeer om eers sy gewese vrou en toe homself om die lewe te bring.

’n Man wat in die moordverhoor van Zurenah Smit gaan getuig, het glo Woensdag probeer om sy gewese vrou by haar werkplek met ’n mes dood te steek. Hier is Zurenah saam met haar vermoorde man, die wingerdboer Stefan Smit. Foto: Argief

Die 55-jarige man het na bewering sy gewese vrou (50) Woensdag by haar werkplek in Kaapstad se noordelike voorstede met ’n mes aangeval.

Ooggetuies beweer dat hy haar met ’n mes in die maag, rug en nek, gesteek het.

Hy het glo daarna, nadat wetstoepassingsbeamptes op die toneel gekom en hul vuurwapens op hom gerig het, die mes waarmee hy sy gewese vrou aangeval het, gebruik om sy eie keel oop te sny.

Bronne sê die vrou se kollegas het, terwyl hulle op die ambulanse en die polisie gewag het, nie besef dat die vrou ook in haar keel raakgesteek is nie.

Hulle vermoed dat hy haar ook keelaf wou sny.

Die man en vrou is in die hospitaal opgeneem. Sy moes Woensdag kort ná haar opname geopereer word.

Die man is in die polisie se getuiebeskermingsprogram geplaas kort nadat twee van Smit se vermeende moordenaars, Zurenah Smit en Derek Sait, op 3 Februarie op borgtog vrygelaat is. Hy het glo die afgelope week uit die program “weggeloop”.

Zurenah is Smit se weduwee en Sait is een van die veiligheidskonsultante wat Smit in 2018 aangestel het om te help om sy plase Watergang en Louisenhof te beveilig.

Hulle en ’n derde man, Steven Damons, is in Desember verlede jaar in verband met Smit se moord op 2 Junie 2019 in hegtenis geneem.

Die saak is tot 5 Maart uitgestel.

Kol. André Traut, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy sê die man word onder polisiebewaking in die hospitaal behandel.

Meer oor:  Zurenah Smit  |  Steven Damons  |  Derek Sait  |  Stefan Smit  |  Stellenbosch  |  Louisenhof  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.