Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Só het hul by Kusile gestroop

Die waarde van vier groot kontrakte vir bouwerk aan die Kusile-kragstasie is met meer as R38 miljard verhoog.

Van die wêreld se grootste ingenieurs- en energiemaatskappye word ondersoek in verband met afwykings van dié Eskom-kontrakte.

Lede van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het na hul asems gesnak toe besonderhede van die ondersoeke Woensdagaand laat aan hulle voorgelê is.

Daarvolgens is vier kontrakte wat aanvanklik altesaam R4,922 miljard werd was, met meer as R38,625 miljard verhoog.

“Die hele voorlegging is skokkend. Dis ’n totale ineenstorting van die staat se verkrygingstelsel wat ’n bedreiging vir Eskom, die staatskas en die land se ekonomie in die geheel inhou,” het Bheki Hadebe, ’n ANC-LP en gekwalifiseerde ingenieur, gesê. “Dis ’n stropery van die hoogste orde.”

Dis ’n stropery van die hoogste orde.

Al sulke kontrakte moet ’n standaard-klousule bevat wat enige afwykings van meer as 20% van die waarde van die aanvanklike kontrak verbied. Die grootste afwykings is van ’n kontrak ter waarde van aanvanklik R114 miljoen wat in Desember 2005 aan Black & Veatch, ’n Amerikaanse energie-projekbestuurskonsultant, toegeken is. Black & Veatch is aangestel as oorhoofse projekbestuurder van Kusile naby Witbank. Die waarde van die kontrak staan vandag op R14,954 miljard, het Solly Tshitangano, hoof-verkrygingsbeampte van Eskom, gesê.

“Dit het gebeur omdat die omvang van die kontrak in 2005 nie omskryf is nie. Toe ek vra waarom daar soveel van dié kontrak afgewyk is, was die antwoord dat toe hulle eers op die terrein is, Eskom vir hulle gevra het wat hulle nóg kan doen.

“Black & Veatch het geantwoord met ’n inkopielys en in 2007 het Eskom se direksie ingestem dat die kontrakwaarde tot R2,82 miljard verhoog word. Die kontrak is nog vyf keer aangepas tot die huidige bedrag van R14,954 miljard wat in Desember 2017 aangegaan is,” het Tshitangano gesê. Hy was voor sy oorplasing na Eskom in Januarie 2019 hoofdirekteur van korporatiewe monitering en nakoming in die tesourie.

Volgens hom is daar aanduidings van dubbele fakturering.

“Ons stel ondersoek in om te bepaal of die geld werklik bestee is aan dit waarvoor dit bewillig is.”

Die kontrak van Stefanutti, ’n boukontrakteur, is verhoog van R1,632 miljard in Junie 2011 tot R3,726 miljard in Desember 2019.

“Dis gedoen met misbruik van die voortsettingsklousule (contingency) in kontrakte wat vergoeding toeken as ’n kontrakteur nie toegang tot ’n projekperseel kan kry nie. Dit het dikwels gebeur weens vertragings met vorige projekte op die perseel.”

’n Kontrak ter waarde van R2,214 miljard is in Maart 2015 aan die Switserse elektrisiteitsreus ABB toegeken. Dis in Augustus 2016 verhoog tot R3,1 miljard. “ ’n Deel van ’n ander kontrak aan Alstom is weggeneem omdat dié Franse ingenieursmaatskappy volgens Eskom nie gepresteer het nie. Dis in Augustus 2016 aan ABB toegeken, wat Impulse International kort daarna as subkontrakteur daarvoor aangewys het.”

Koketso Choma, stiefdogter van die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, Matshela Koko, was in daardie stadium ’n aandeelhouer van Impulse International. Sunday Times het in Maart verlede jaar berig Koko het kontrakte ter waarde van R6,5 miljard aan ABB belowe indien Impulse as sy subkontrakteur aangestel word.

Die spesiale ondersoekeenheid van die nasionale vervolgingsgesag ondersoek nou die aanvanklike kontrak van sowat R2,2 miljard aan ABB.

Tenova, ’n mynbou-konstruksiemaatskappy, het ook in Maart 2010 ’n kontrak ter waarde van R963 miljoen met Eskom gesluit vir konstruksiewerk by Kusile. Die kontrakwaarde het tot R1,896 miljard gestyg. “Tenova het Eskom R33 miljoen afslag gegee, maar het feitlik onmiddellik ’n aanpassing van R44 miljoen gekry.”

’n Kontrak ter waarde van R100 miljoen is in 2006 aan PB Africa, nóg ’n ingenieurskonsultante-groep, toegeken vir opmetings, ontwerp en beplanning by Kusile en Medupi. Die kontrak is nege keer gewysig. Die laaste aanpassing was in Desember 2017 en het die kontrakwaarde op R6,227 miljard te staan gebring.

“Die aanpassing is glad nie deur Eskom se korporatiewe beheerkomitee goedgekeur nie. Die kontrakteur het Eskom vanjaar gevra om die tydperk van die kontrak te verleng.

“Ons het daarop besluit om ’n ondersoek na al die historiese aanpassings te begin om te bepaal of die geld regtig aangewend is vir die doel waarvoor dit beskikbaar gemaak is,” sê Tshitangano.

Meer oor:  Korrupsie  |  Skoor  |  Eskom  |  Kontrakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.