Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Só onthou mense die vermoorde ‘tannie Woollies’

Honderde boodskappe van medelye en skok is Woensdag ná die moord op Judith Redelinghuys (71), wat ook as tannie Woollies bekend was, op sosiale media gedeel.

Die skrywer Anzil Kulsen, ook ’n inwoner van Upington, het haar afgryse uitgespreek en het aan Netwerk24 gesê sy is diep geskok.

“Ek sal haar altyd as tannie Woollies onthou. Toe ek nog by Old Mutual op die dorp gewerk het, het sy altyd haar parkeergeld by my kom betaal. Sy was so nederig, ek het net altyd gedink sy is ’n werknemer by Woolworths en het nooit besef sy is die eienaar nie.”

Kulsen het Woensdag op Facebook gesê die misdaad raak waansinnig.

“ ’n Mens is bang om in jou eie huis alleen te wees, bang om in die veld te stap, bang vir jou vriende en familie op afgeleë plase. Waar gaan dit eindig?” wou Kulsen weet.

Judith Redelinghuys Foto: Verskaf

Redelinghuys het veral ’n groot bydrae tot liefdadigheid in die omgewing gelewer.

By die mees onlangse projek waarby sy betrokke was, het Redelinghuys genoeg lap, wat reeds in stroke gesny was, aan die Leer en Leef-skool geskenk om 645 maskers te maak. Daarmee saam het sy ook 45 afskrifte van die maskers se patrone geskenk.

Christel Strauss wat deel van dié projek is, het op Facebook geskryf hoe Redelinghuys haar moed ingepraat en gesê het: “Moet nooit opgee nie, al glo niemand”.

Strauss sê Redelinghuys het dié projek vlerke gegee.

Arnold Hanekom, oudskoolhoof van die Laerskool Op die Voorpos in Upington, het Redelinghuys as ’n besonderse mens beskryf en sê: “Sy was ’n absolute steunpilaar deurgaans en ’n wonderlike vrou om mee saam te kon werk. Dit is vir my so hartseer die nuus vandag, veral die wyse. Judy het dit nie verdien nie.”

Nanze Els, ’n inwoner en vriendin, het Woensdag gesê sy is erg geskok.

Sy vertel hoe Redelinghuys haar in 2005 gehelp het om haar droom te bewaarheid en vir haar borg gestaan om in Engeland te kon gaan werk.

“Ek was nie familie nie en sy het my niks in die lewe geskuld nie, maar sy het vir my die geleentheid van ’n leeftyd gegee om myself te ontdek sodat ek kon grootword en besef dat ek vir ander iets kan beteken.”

Sy sê net om te weet dat een mens in haar geglo het soos Redelinghuys het, het die wêreld se verskil in haar lewe gemaak.

“Ek is seker die een wat dit aan haar gedoen het, het haar nie geken nie. Sy was ’n hand wat gegee het, maar daardie hand wat net bly gee het, is nou afgekap.”

Die Upington-polisiekantoor ondersoek die moord op Redelinghuys. Geen nuwe inligting was Woensdag in verband met die voorval beskikbaar nie.

Meer oor:  Upington  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.