Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Só verloop drama by Menlyn Maine

’n Man het Dinsdag omstreeks 11:15 by die Absa-bank in die Menlyn Maine-winkelsentrum in die ooste van Pretoria ingestap en ’n briefie aan die kassiere oorhandig.

Toe sit hy ’n pypvormige toestel met ’n flikkerende rooi liggie ook op die toonbank neer.

Volgens News24 was die verdagte volgens bronne ’n lid van die destydse elite-polisie-eenheid, die Skerpioene.

“Die verdagte, ’n man van in sy 50’s van Garsfontein in Pretoria, het ’n groot bedrag geld geëis en gedreig om homself en die mense in die bank te beseer,” het kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, gesê.

Die kassiere het saamgespeel, maar subtiel die afstand-noodknoppie gedruk.

Kapt. Riaan Bekker van die Brooklyn-polisie staan voor langs die neus van die polisiemotor met die verdagte se vuurwapen in ’n forensiese bewysstuksak. Foto: Verskaf

Die polisie is ontbied en Nico Vermeulen, die sentrum se veiligheidsbestuurder van die Fidelity-veiligheidsgroep, het solank gaan ondersoek instel.

Hy het glo op die oog af doodluiters die bank ingegaan.

“Die verdagte het intussen daarop aangedring om die veiligheidsbestuurder ook te sien, maar nie geweet wie dit is nie.

“Die veiligheidsbestuurder (Vermeulen) het nie laat blyk dat dit inderwaarheid hy is nie en het die verdagte oortuig om te sit terwyl hy ‘die veiligheidsbestuurder’ kontak,” sê Weilbach.

Vermeulen het toe ongesiens aan die kliënte beduie om stil-stil die bank te verlaat.

Kort voor lank was dit net hy, die bankbestuurder, enkele personeellede en die verdagte – wagtend op die “veiligheidsbestuurder”.

Kapt. Riaan Bekker en sers. Greg Dodgen van die Brooklyn-polisie was eerste buite die bank se groot glasdeure.

Sommige beweer hulle het die verdagte “blitsig bespring”.

“Wel, daar was beslis ’n struweling, want die verdagte het homself teengesit,” vertel ’n bron.

Die twee polisiemanne het die verdagte in hegtenis geneem en hom deursoek. Hulle het ’n gelisensieerde vuurwapen en motorsleutels aan hom gevind.

Dodgen het die “bom” op die toonbank gewaar en die polisie se honde- en plofstof-eenheid is ontbied.

Die sentrum is ook onmiddellik ontruim.

Werknemers en kliënte in die sentrum vertel hulle is net voor 12:00 aangesê om na buite te gaan.

Kapt. Anton Breedt en ander polisielede verjaag die skare nuuskieriges wat op die vangwa toesak nadat die verdagte daarin toegesluit is. Foto: Deaan Vivier

“Daar was ’n aankondiging oor ons winkel se interkom dat ons almal moet ontruim, maar geen rede is gegee nie. Ons het eers buite gehoor daar is ’n bomdreigement. Ons was bang,” het een winkelwerker buite vertel.

Twee ander vroue was op pad om kos in die sentrum te koop toe die sentrum se alarm afgaan.

“Dit gebeur nogal gereeld, so ons het ons eers nie daaraan gesteur nie – tot ons mense verby ons na buite sien stroom.

“Iemand het iets gesê van ’n man met ’n bom en ’n ontsteker. Toe move ons!” het een vertel.

Kort voor lank het die toneel gewemel van private veiligheidsmaatskappye, nooddienste, nog polisielede en ’n brandweerwa en is strate en parkeerkelders afgesper.

Weilbach sê ’n snuffelhond is eerste die bank ingeneem om die verdagte toestel te ondersoek.

“Die hond het positief op die toestel gereageer en ’n plofstofdeskundige is ingestuur.

“By nadere ondersoek is gevind dat die toestel nié ’n bom is nie. Daar was wel buskruit op die toestel, wat die hond se reaksie verduidelik,” sê Weilbach.

Om ongeveer 15:00 is die sentrum veilig verklaar en die verdagte in ’n vangwa gelaai.

Toe werknemers van die sentrum ingelig is dat hulle kan terugkeer, het talle eers na die vangwa gestorm om te kyk of hulle die verdagte kan sien.

In die vleuel waar verskeie banke geleë is, was alles gesluit.

In Absa het mense gesit en praat en twee mans het kospakkies en verversings ingebring.

Tshiwela Mhlantla, Absa se uitvoerende hoof: fisiese kanale, het ná die tyd gesê al hul kliënte en kollegas is veilig en sal berading ontvang.

Werknemers en kliënte sit buite die sentrum en wag nadat die gebou ontruim is. Foto: Deaan Vivier

Die Menlyn Maine-sentrumbestuur het in ’n verklaring gesê die situasie is ontlont danksy ’n gesamentlike poging tussen die polisie en sentrumlede.

“Niemand is in die voorval beseer nie,” lui die verklaring.

* Die verdagte sal later die week in die hof verskyn op ’n aanklag van poging tot bankroof en oortreding van die Wet op Plofstowwe deurdat hy ’n bomdreigement gemaak het.

Terwyl daar sprake is dat die Valke nou die ondersoek kan oorneem, blyk dit dat die man se motor en huis as deel van die ondersoek deursoek gaan word.

Hy het glo met sy motor ’n entjie van die sentrum af geparkeer en toe na Menlyn Maine gestap met sy “bom” en briefie.

Winkels in die Menlyn Maine-sentrum was donker en leeg met parkeerkelders afgesper, nadat ’n man ’n bomdreigement in die Absa-bank gemaak het.Foto: Deaan Vivier
Noodvoertuie staan gereed buite die sentrum.Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Bomdreigement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.