Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SOE ondersoek grootskaalse bedrog onder regslui

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in ’n ondersoek op grootskaalse beweerde konkelwerk en bedrog tussen private regspraktisyns en die Kantoor van die Staatsprokureur afgekom.

Andy Mothibi, SOE-hoof, het Dinsdag aan die portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste gesê ’n strafregtelike ondersoek na die voormalige Gautengse hoof van die Kantoor van die Staatsprokureur, Kgosi Lekabe, sal voortgaan.

’n Bedrag van R26,5 miljoen is betrokke in die bewerings rakende Lekabe. Hy het bedank terwyl ’n tugproses teen hom aan die gang was.

Die SOE het ook ’n bevel bekom om Lekabe se pensioengeld van R4 miljoen te bevries terwyl hy ondersoek word.

Daarbenewens ondersoek die SOE drie advokate (wat in die voorlegging aan die komitee net as advokaat A, advokaat B en advokaat C geïdentifiseer is), wat na bewering met Lekabe saamgespan het.

Bewerings in die geval van advokaat A sluit in bedrieglike vooruitbetalings, bedrieglike uurlikse tariewe en eise vir oorbetalings van R34 miljoen.

Advokaat B word ondersoek vir soortgelyke misdrywe, maar die aantygings behels ’n bedrag van R22 miljoen.

Die bedrae betrokke by advokaat C kan nog gekwantifiseer word nie. Advokaat C het aangebied om sommige van die bedrae wat as onreëlmatig beskou word, terug te betaal, maar Mothibi het gesê dat hulle eerder die saak behoorlik wil ondersoek.

Volgens Mothibi is dit net die punt van die ysberg in ’n uitgebreide ondersoek na aangeleenthede rakende die kantoor van die staatsprokureur.

Die SOE sal teen 30 Augustus ’n tussentydse verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oor die beweerde ongerymdhede voorlê.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ook die vergadering bygewoon. Rodney de Kock, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging, het gesê: “Dit is ondenkbaar dat staatsadvokate met private prokureurs op hierdie wyse kan saamspan. Ons moet hof toe gaan as daar misdadige aktiwiteite is.”

De Kock het gesê prokureurs is veronderstel om “spesiale mense” te wees wat in die openbare belang optree.

Sodra die aangeleenthede in die hof is, sal die NVG sorg dat dit die nodige aandag kry.

Mothibi het die komitee verder ingelig oor ’n ondersoek na die konstruksie van die hooggeregshof van Limpopo waaraan daar tot dusver meer as R6 miljard bestee is – nagenoeg 100% meer as die begroting van R3 miljard.

Daar is net vier hofgeboue in plaas van die beplande agt. ’n Ondersoek ter plaatse het swak vakmanskap en boumateriaal van swak gehalte aan die lig gebring.

Volgens Mothibi ondersoek die SOE ook meer as 150 aantygings deur die publiek teen amptenare van die kantoor van die Meester van die Hooggeregshof.

15 moontlike verwysings vir tugstappe en 15 moontlike strafregtelike verwysings is tot dusver geïdentifiseer.

Bulelani Magwanishe, voorsitter van die komitee, het in ’n verklaring ná die sitting gesê hoewel die komitee tevrede is met die vordering in die werk van die SOE, bly hy besorgd oor die omvang van die korrupsie.

Meer oor:  Bedrog  |  Spesiale Ondersoekeenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.