Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Soektog na Koevoet-man duur voort

"Ons het niks om weg te steek nie,” het die man op die stoep met sy hande in ’n hensop-gebaar gesê toe die polisie hom en ’n vrou Woensdag oor die verdwyning en vermeende moord van ’n oud-Koevoetlid ondervra.

Dié twee is familielede van een van die verdagtes wat onder meer van Chris Barnard se moord aangekla word.

Die vermiste Chris Barnard.

Hulle was ook deel van talle mense wat Woensdag tydens nog ’n reuse-soektog na die vermiste man ondervra is.

Barnard is sedert vroeg-Desember weg, nadat hy op 1 Desember van Irak, waar hy vir ’n Amerikaanse veiligheidsmaatskappy werk, na Suid-Afrika gekom het vir vakansie. Hy het ’n paar dae later ’n “Facebook-vriendin” in Vanderbijlpark gaan haal om te kom kuier.

Die laaste keer wat sy familie met hom kontak gehad het, was op 6 Desember. Hulle het met die veiligheidsmaatskappy bevestig dat Barnard nié na Irak teruggekeer het nie.

Hoewel drie verdagtes intussen aangekeer én in besit van Barnard se voertuig, selfoon, huisraad en bankbesonderhede gevind is, is die frisgeboude man steeds weg.

Woensdag het lede van die Sinoville-polisie in Pretoria, sowel as die honde-soek-en-redding-eenheid, forensiese en private deskundiges die soveelste keer na hom gaan soek. Dié slag het die soektog vanaf Pyramid, noordoos van die stad, dwarsdeur tot by Haakdoornboom en Honingnestkrans noordwes van Pretoria gestrek.

Spruite, bosse, brûe, treinspore en verskeie kleinhoewes is gefynkam.

Een van die plekke waarheen inligting die polisie gelei het. Dit het egter niks opgelewer nie. Foto: Deaan Vivier

“Hulle werk die spreekwoordelike tree vir tree deur die leidrade. Daar word gereeld meer inligting ontvang en alles word opgevolg,” sê bronne.

Die groot doel van die soektog was om vir Barnard op te spoor en plekke te deursoek waar, luidens bronne, ’n lyk dalk versteek kan wees.

“Ons sal aanhou soek totdat ons hom kry,” het die polisie onderneem.

Daarby sal nóg “persone wat kan help met die ondersoek” ondervra word.

Elke moontlike wegsteekplek word deursoek vir enige leidraad wat kan help om Chris Barnard op te spoor. Foto: Deaan Vivier
’n Polisielid deursoek ’n gebou op een van die kleinhoewes waar die ondersoekspan leidrade opgevolg het.Foto: Deaan Vivier
Ruig plantegroei op een van die kleinhoewes noord van Pretoria het nié die snuffelhond en sy hanteerder afgeskrik nie.Foto: Deaan Vivier

Intussen wag Barnard se familie geduldig op antwoorde, maar erken dat dit moeilik is.

De Wet van Wyk, sy swaer, sê eerlik: “Dit is so belangrik dat ons vir Chris kry. Ons raak nou desperaat”.

Hy voeg by dat Barnard se werkgewer ook sy persoonlike besittings vanaf Irak na Suid-Afrika gaan stuur.

* Die familie het Barnard destyds as vermis aangemeld nadat hulle vreemde boodskappe vanaf sy selfoonnommer gekry het.

Hulle het gaan ondersoek instel en die Pretoria-huis waar hy tuisgegaan het, geplunder gevind.

Ondersoekwerk het die polisie en familie na Corné de Beer (33) van Sasolburg, Richardt (Jagter) Botha (35) van Vanderbijlpark en Wayne van der Walt (35) van Vereeniging gelei.

Die drie is oorspronklik in hegtenis geneem op aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal, sowel as die diefstal van Barnard se voertuig.

’n Paar dae later is ’n aanklag van moord bygevoeg, hoewel daar nog geen spoor van Barnard is nie, vermoedelik omdat die polisie genoeg inligting het om die ergste te glo.

Die drie beskuldigdes is steeds in aanhouding nadat hulle vroeër hul borgtogaansoek laat vaar het.

* Mense met inligting kan sers. Ferreira by 071 675 7373 bel.

’n Snuffelhond beruik ’n voertuig van ’n familielid van een van die drie verdagtes wat van die moord van Chris Barnard aangekla word. Foto: Deaan Vivier
Polisielede en snuffelhonde het Woensdag kilometers ver gestap om leidrade wat dalk na die vermiste Chris Barnard kan lei, op te volg.Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Chris Barnard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.