Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Soldate rand sanger glo in huis in Mitchells Plain aan

“Hulle het my soos ’n dwelmhandelaar en terroris behandel en my pimpel en pers geslaan.”

James Bhemgee, nadat soldate hom glo onder hande gehad het in Mitchells Plain.

So het James Bhemgee, bekende sanger in Kaapstad, Woensdag gesê nadat hy glo die vorige dag by sy huis in Mitchells Plain deur lede van die Suid-Afrikaanse Weermag aangerand is.

Die operasanger, ’n voormalige straatveër, het ’n huishoudelike naam geword nadat hy as die wenner van 2010’s SA’s Got Talent gekroon is.

Bhemgee wat in Rocklands, Mitchells Plain, woon, is glo Dinsdagmiddag deur die soldate aangerand toe hy aangesien is as ’n bendelid en dwelmhandelaar.

“Hulle het my oor my kop geslaan, my geskop en my T-hemp oor my kop getrek en water op gegooi asof hulle my wou verdrink. My hele lyf is seer en my ribbes pyn. Ek het die ergste deurgeloop, maar van die ander mense wat daar was, is geslaan en geboelie,” het Bhemgee gesê.

Bhemgee sê hy is vir niks geslaan nie, en die owerhede het nie dwelms gevind nie.

“Ek is bekommerd dat hulle binnekort iemand lelik kan seermaak of selfs doodslaan. Dit terwyl die polisie net hul rug draai en wegkyk,” het Bhemgee gesê.

Volgens Bhemgee was hy op pad om ’n strafregtelike saak te open om te verseker dat niemand anders so sleg behandel word nie.

Volgens vriende van Bhemgee was hy by die huis toe lede van die weermag, wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens vergesel deur om bendegeweld en ernstige misdaad op die Kaapse Vlakte vas te vat, by ’n huis op die perseel waar by bly, toegeslaan het.

James Bhemgee, ’n voormalige straatveër wat in 2010 as die wenner van SA’s Got Talent gekroon is. Foto: Beeld

Ashley Pienaar, Bhemgee se agent en jare lange vriend, sê Bhemgee is in die Mitchells Plain-daghospitaal behandel en sal na verwagting ’n klag teen die weermag gaan indien.

“Bhemgee bly in ’n plek wat deur ’n lid van die Kaapse Klopse aan hom beskikbaar gestel is. Ek is ingelig dat daar glo “dodgy besighede’ by die perseel aangaan, maar dit het niks te doen met die manier hoe Bhemgee behandel is nie,” het Pienaar gesê.

Pienaar, ’n kampvegter vir kunstenaars, sê almal is ontsteld oor hoe die weermag inwoners se regte ignoreer en handgemeen raak met inwoners.

“Die manier hoe Bhemgee behandel is, is ongehoord en onnodig. Niemand het die reg om ’n ander mens met soveel minagting en haat te hanteer nie,” het Pienaar gesê.

Harley Moses, ’n ander vriend van Bhemgee, het hom na die hospitaal gebring ná die voorval.

“Hy het sy ribbes seergemaak en sy oë was bloedrooi en dik nadat die soldate met hom klaar was, en dit is onaanvaarbaar. Almal in die woonbuurt weet hy het niks te doen met dwelms of bendes nie,” het Moses in ’n video-opname gesê.

Intussen het die weermag gesê dat hulle kennis neem van die aantygings oor aanranding wat teen hulle lede gemaak is.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, woordvoerder van die weermag, sê hulle is “besig met ’n interne ondersoek” om uit te vind wat gebeur het en tot dié bewerings gelei het.”

Meer oor:  Sanger  |  James Bhemgee  |  Mitchells Plain  |  Aanranding  |  Dwelmhandelaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.