Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sophiatown: 2 gou vas ná moord op bejaarde egpaar

Die feit dat die polisie sy ouers se vermeende moordenaars so vinnig aangekeer het, “gee ’n mens weer moed”.

So sê Tobie Schourie, seun van Henning (82) en Hilda (80) Schourie, wie se verminkte lyke Saterdag in hul huis in Allandalestraat in Sophiatown, Johannesburg, gevind is.

Hilda (80) en Henning (82) Schourie, wie se verminkte lyke Saterdag in hul huis in Sophiatown gevind is.Foto: Facebook/Bergbron-gemeente

’n 45-jarige verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en die polisie het Sondag ’n 24-jarige verdagte in die nabygeleë Westbury in die weste van Johannesburg in hegtenis geneem.

“My ouers het sowat 60 jaar in daardie huis gewoon en voor Saterdag was daar nog net een keer by hulle ingebreek. Hulle was Godvresende mense wat baie vir hul medemens omgegee het. Woensdae het hulle Bybelstudie gehou en Sondae was hulle in die kerk.

“Dit is onverstaanbaar dat jy soveel haat in jou ronddra dat jy iemand op so ’n wrede wyse vermoor,” sê Schourie.

“Ek moes hulle in die lykshuis gaan uitken en ek het gesukkel – dit was verskriklik.”

Volgens hom word niks tans uit sy ouers se huis vermis nie. “Hul televisiestel het buite op die grasperk gestaan, maar dit is al.”

Schourie sê ondanks die skok van sy ouers se wrede moord, is hy verstom oor die ondersteuning wat hy van die gemeenskap kry.

“Mense by wie ek eens op ’n tyd in dié buurt verbygery het sonder om hulle te groet, het uit hul pad gegaan om my te kom bystaan en te ondersteun. Vreemdelinge het nou vriende geword. Ek wil almal vir hul ondersteuning bedank,” sê hy.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê veiligheidswagte wat die buurt gepatrolleer het, het die twee verdagtes agternagesit toe hulle by die huis uitgehardloop het. Een van die verdagtes is in die been gewond en in hegtenis geneem.

Volgens Masondo is die egpaar vermoedelik in hul huis oorval en doodgeslaan. Hul lyke is langs mekaar in die sitkamer gekry.

“ ’n Saak van moord en huisroof word ondersoek. Die polisie het inligting opgevolg en die tweede verdagte Sondag in hegtenis geneem. Albei verdagtes is in aanhouding,” sê Masondo.

Die egpaar word ook oorleef deur hul dogter, Trudie Botha, skoonseun, Ferdi, en vier kleinkinders. Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

* ’n Nagwaak word Donderdag om 19:00 in Allandalestraat in Sophiatown vir die egpaar gehou.

Meer oor:  Hilda Schourie  |  Henning Schourie  |  Sophiatown  |  Johannesburg  |  Moord  |  Misdaad  |  Bejaarde Egpaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.